News

Stof af en rock voort!

As die stofpad lank was, en jy kom by daardie kruising in jou lewe waar die Here vir jou sê Hy is steeds bereid om jou te omhels na al die stampe en stote en spoedwalle, wat staan jou te doen? Kyk op, skud die stof af, en rock voort! Dit is die siening van …

As die stofpad lank was, en jy kom by daardie kruising in jou lewe waar die Here vir jou sê Hy is steeds bereid om jou te omhels na al die stampe en stote en spoedwalle, wat staan jou te doen? Kyk op, skud die stof af, en rock voort!

Dit is die siening van Bela-Bela se enigste Afrikaanse rock-sensasie, Jonah of aan die inwoners bekend as Renier Henn. Afrikaanse rockmusiek is, afgesien van groot name in die genre soos Karin Zoid, Koos Kombuis, Mel Botes en Johannes Kerkorrel die baanbrekers in hierdie styl, met Bok van Blerk, Spoegwolf en Die Tuin-dwergies wat nou die genre skud.

Volgens musiekvervaardiger, Wicus Struwig van SSL Productions in Johannesburg, is dit ongehoord vir ’n vars Afrikaanse rock-sanger of groep om binne die eerste vier dae vandat hul eerste musiek video op sosiale media vrygestel is, oor die 100 000 besoeke (likes) te kry… en dit is presies wat die nuwe stem van Bela-Bela, Jonah, pas vermag het.

Struwig sê hy is al 26 jaar in die musiekbedryf, en het al met van die grootste kunstenaars in die land saam gewerk. “Ek het nog nooit so iets in my lewe ervaar nie,” het hy opgewonde gesê.

Jonah, is die naam waaronder Bela-Bela se nuwe Afrikaanse rocksanger wil bekend staan. Oor die naam Jonah is die sanger duidelik, net soos die walvis vir Jona ingesluk het, het die wêreld hom ook ingesluk en weer uitgespoeg, en hy het besef, die talent wat hy ontvang het is nie verniet vir hom gegee nie, en hy het gesing om dankie te sê.

Met ’n baie stormagtige lewe agter die blad waar verkeerde keuses hom op allerhande kronkels en draaie laat neem het, het hy op ’n dag besef solank as wat jy asem haal is die lewe nog nie verby nie, en die Here is altyd bereid om enige iemand ’n tweede kans te gee. Hy wil elke persoon wat al daardie stofpad gestap het, en wat die lewe met al sy stampe en stote ervaar het, aanmoedig, gryp daardie tweede kans aan! Kyk op en stof jouself af, gebruik jou talente en sê dankie!

Struwig vertel dat hy vir Jonah die heel eerste keer op ’n lofprysing-byeenkoms in Johannesburg hoor sing het. Hy was baie beïndruk en het na hom uitgereik om sy ateljee in Bela-Bela bietjie op te gradeer. Hy sê dat hy eendag vir Jonah ’n liedjie gespeel het wat eintlik vir ’n ander kunstenaar bedoel was. Jonah was onmiddellik gaande oor die liedjie en wou dit baie graag opneem.

“Hy het tot vervelens gekerm en gesoebat,” skerts Struwig. Hul het die liedjie, Vry wil ons wees, wat deur die begaafde Theuns Duvenhage geskryf is, opgeneem en die uitkoms was verstommend!

Jonah is ’n solo kunstenaar, en die talentvolle musikante wat saam met hom in die musiek video opgetree het, word beskou as van die bestes in die land, en hy sien uit daarna om van tyd tot tyd weer saam met hierdie kunstenaars op te tree.

Jonah vind inspirasie uit sy jeug, en hoewel dit soms baie uitdagend en onstuimig was het die klanke van ACDC, Def Leppard en Guns ’n Roses hom bygebly. Hy het gevoel hy wil sy liefde vir rockmusiek uitleef, maar met ’n suiwer, en inspirerende uitkyk op die lewe. Hy wil hê mense moet met vars oë na rockmusiek kyk, en hy wil deur sy musiek, met opbouende lirieke, sy druppel in die emmer gooi om die stigma en reputasie wat aan rock-kunstenaars kleef op sy kop te keer.

Die amptelike bemarking van Vry wil ons wees en van Jonah het volgens Struwig nog nie eers behoorlik afgeskop nie. Daar is reeds twee nuwe liedjies op die tafel, waarvan die opnames eersdaags sal begin. Struwig sê: “Ons gaan hom druk en weet dat Jonah nog groot dinge gaan vermag.” Hy voeg by dat sosiale media basies die CD mark doodgemaak het, “Mense koop nie

meer CD’s nie, en Suid-Afrikaanse kunstenaars maak uitsluitlik geld uit publieke optredes en konserte.”.

Hy het bygevoeg dat sosiale media nou die instrument is waarmee kunstenaars aan die publiek blootgestel word, en naam maak, en as die reaksie op Jonah se musiek video enige aanduiding is, wag daar ’n blink toekoms vir hom, nie net op die Suid-Afrikaanse musiekfront nie, maar ook internasionaal.

 

Related Articles

Back to top button