EntertainmentNews

Sanger kom loer weer in op tuisdorp

In 2019 kon Sonè Joubert met haar ryk stem daarin slaag om tweede te eindig in die gewilde Suid-Afrikaanse weergawe van The Voice-sangkompetisie. Sedertdien gaan sy van krag tot krag en is sy besig om groot opgang te maak in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf.

Dié oud-inwoner van Bela-Bela woon tans in Alberton, Gauteng, en het op Sondag, 26 Mei vinnig kom inloer voor haar besige program weer afskop. Sonè (33), word onthou as die klein dogtertjie wat altyd in die parkeerterrein van Bosveld Pick & Pay, in Bela-Bela opgetree het.

Sy vertel haar liefde vir sang het op agt jarige ouderdom begin, toe sy vir Marga Roos, onderwyseres by Laerskool Warmbad en sangafrigter ontmoet het. By Roos is sy vir die eerste keer blootgestel aan ‘vocal training’, en sy is ook deur Roos ingeskryf om aan plaaslike kompetisies deel te neem.

Sy het toe al besef dat musiek een van haar lewensdrome is, en sy was vasberade om, of perdry, of sang haar loopbaan te maak. “Die saadjie vir my sukses is hier in Bela-Bela geplant,” sê sy.

Haar deelname aan The Voice in 2019 het haar finaal laat besluit om sang haar hele wêreld te maak, en die hoogtepunt van die hele ervaring was die feit dat sy die verhoog kon deel met haar, plaaslike musiekheld, en grootste inspirasie, Laurika Rauch. Onder die ikoniese talente wat sy navolg en as haar inspirasie beskou, is plaaslik, Laurika Rauch, Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis en Karin Zoid, maar die storie agter hierdie kunstenaars is vir haar meer inspirerend as hul musiektalent. Mense wat moes veg om bo uit te kom, en hul plekkie in die son moes oop stoei.

Internasionaal vind sy inspirasie in kunstenaars soos Alicia Moore (Pink), en Tracy Chapman. Sonè het onlangs ’n landswye toer saam met die Kanadese kunstenaar en musikant, Jamie Fine onderneem. Die program staan bekend as: If anything’s left Tour 2024. Die toer het aangedoen in Johannesburg, Mbombela, Kimberley en Kaapstad.

Vir haar is musiek haar lewe en is haar droom om op elke moontlike verhoog in die wêreld te kan sing en God te prys vir haar talent. Sy werk ook tans aan haar eerste eie album getiteld ‘Niks is

Baie’ en gaan binnekort haar nuutste enkelsnit Warrelwinde bekendstel. Sonè werk tans saam met Lanie Solomon van On Fire Events en sal plaaslik gesien kan word by die Hankook Land

Cruiser Fees wat vanaf Vrydag 7 – 9 Junie by Sondela-natuurreservaat en Spa buite Bela-Bela gehou word. Daarna is sy weer terug op eie bodem vir die KykNet Buite Ekspo wat gehou word vanaf Vrydag 26 – 28 Julie ook op Sondela.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button