CarsNews

Pensionaris krap kop oor ‘verneukspul’

As ‘n mens jou lewe lank gewerk het om vir jou oudag ’n neseier bymekaar te maak, en jy verloor feitlik alles in ’n oogwink deur ’n blatante verneukery, dan is dit genoeg om van ’n stuipe te kry.

Dit is presies hoe Leon Bredenkamp (84) voel oor die ‘nuwe’ tweedehandse motor wat hy onlangs aangekoop het. Bredenkamp, ’n afgetrede lugvaart-ingenieur, het vyf jaar gelede besluit om van Knysna na Bela-Bela te verhuis.

Hy en sy vrou, Maxie het al die land plat gereis, maar een van sy grootste drome was nog altyd om na die sterre te kyk vanaf die sterrewag in Sutherland. Hy wou graag sy 20 jaar oue Toyota Corolla verkoop en ’n nuwe motor aanskaf wat dan die spreekwoordelike ‘laaste voertuig wat ons sal koop’ sou wees.

Op die webtuiste Cars.co.za, het hy op ’n pragtige 2021 model Suzuki Vitara Brezza afgekom. Die motor sou ideaal wees, en met slegs 28 525 km op die klok, was dit amper ’n gegewe dat die voertuig nog baie reisgenot sal verskaf. Hy het onmiddellik met die verkoper, ene Rui dos Santos van Red Dragon Motors in Bryanston in aanraking gekom en begin om die proses se wiele aan die rol te sit.

Opgewonde oor die nuwe voertuig, het Bredenkamp en sy vrou deurgery na Bryanston, in Johannesburg, om na die ‘nuwe’ motor te gaan kyk. Dos Santos het aan die egpaar gesê dat dit ’n voertuig is wat deur die bank teruggeneem was. Hul het die voertuig vir ’n toetsrit geneem en was tevrede met alles op die oog af. Die handelaar het hul R60 000 aangebied as inruil op die nuwe motor van R230 000. Die transaksie is beklink en Bredenkamp het fondse onttrek (waarop hy ’n heffing moes betaal) om ’n direkte oorplasing te maak. Die ‘nuwe’ Brezza is by hul huis in Bela-Bela afgelewer.

Die Bredenkamp’s was opgewonde om met hul nuwe motor te gaan ry. Met hul eerste rit het hy ’n vibrasie op die stuurwiel gevoel. Hy het die voertuig by ’n spesialis onderneming in die dorp gehad om die wielsporing na te gaan. Die tegnikus het hom daarop gewys dat daar groot fout is. Hulle het gevind dat die onderstel gebuig was en die verkoeler was nie korrek gemonteer nie.

Die tegnikus het gesê dit lyk asof die voertuig in ’n ernstige ongeluk was. Hy het intussen die handelaar geskakel en wou die transaksie ongeldig laat verklaar maar Dos Santos was nie daarvoor te vinde nie en het volgehou dat die voertuig voetstoots gekoop is.

Bredenkamp het verdere kundige hulp ingewin by Santie Boshoff van BB Auto, wat op haar beurt vir Chris Viljoen ’n forensiese ondersoeker van die South African Motor Body Repairers

Association (SAMBRA) gevra het om ’n evaluasie te doen. Na ’n deeglike ondersoek van drie en ’n half uur het hulle 49 ernstige foute uitgewys en boonop gesê dat die voertuig nie padwaardig is nie. Boshoff het gesê dat die herstelwerk aan die voertuig was swak en nie professioneel gedoen nie. Sy het gesê dat dit ’n spoeg-en-plak herstel was. Die voertuig se lugsakke het ontbreek en die omhulsel is vasgeplak om agter die instrumentepaneel te pas, is net ’n voorbeeld.

By navraag vanaf Wendy Knowler van die Sunday Times-koerant wat op 26 Mei hieroor berig het, het Dos Santos gesê dat die voertuig niks makeer het toe hy dit aan Bredenkamp oorhandig het nie. Hy het aangevoer dat hy oor ’n padwaardigheidsertifikaat beskik, en die skade kon moontlik aangerig gewees het tydens die uitmekaar haal proses deur BB Auto. Hy het aan Knowler gesê hy het die voertuig op ’n veiling gekoop, wat nie strook met die aanvanklike bank teruggeneemde voertuig nie.

BB Auto het aan Die Pos bevestig dat hulle al sedert 1987 in die bedryf is, lid is van die Retail Motor Industry Organisation (RMI) en SAMBRA en twee hoogs gekwalifiseerde ambagsmanne het wat aan die betrokke voertuig gewerk het. Dat hul hoog aangeskryf word deur Toyota, Ford, Nissan, Mazda, Huyndai en Isuzu en werk al vir meer as 30 jaar saam met van die grootste versekerings maatskappye in Suid-Afrika. Viljoen is al vir 32 jaar ‘n voertuig assessor en word geag vir sy kundigheid.

Viljoen sê dat soortgelyke probleme al hoe meer algemeen raak. Hierdie tipe voertuie word uitsluitlik reggemaak om voornemende kopers in die slaggat te laat trap. Voertuie word deur versekerings maatskappye afgeskryf as ‘onekonomies om te herstel’ en word dan aan veilings maatskappye verkoop as Kode 2 (onekonomies om te herstel), Kode 3 (herbou), Kode 3A (slegs vir onderdele), of Kode 4 (permanent afgeskryf). Hierdie voertuie hoort nie op ons paaie nie, maar hulle word vinnig aanmekaar gesit en die verkoopstransaksie geskied dan ook verskriklik vinnig.

Daar is in hierdie stadium geen regulering van hierdie bedryf nie en die internet skep ook ‘n baie gevaarlike speelveld waarin voornemende kopers maklik om die bos gelei kan word. Dit is juis om hierdie rede dat hy ‘n voorstander is van die idee dat die South African Insurance Association (SAIA) gedwing moet word om die status van voertuie bekend te maak wat hulle kodeer. SAIA weier om enige Kode 2 gekodeerde voertuie op hul VIN-Lookup databasis te plaas.

Hy stel voor dat voornemende kopers nie oorhaastig moet wees nie, en tyd neem om ’n deurdagte besluit te neem. Om ’n kundige tegnikus saam te neem om die voertuig te evalueer sal ook help. Die beste is dat die voornemende koper die voertuig na ’n paneelklopper neem om vas te stel of die voertuig in ’n ongeluk was al dan nie. ’n Professionele persoon sal gou die swak vakmanskap en moontlike probleme kan uitwys. Hierdie voertuie is nie net ’n “death-trap” vir die koper nie, maar vir almal saam met hom op die pad. As die verkoper enigsins weier dat so ’n ondersoek gedoen kan word, dan moet die rooi ligte vir die koper flikker.

Wat ook al die uiteinde van hierdie geval gaan wees, die feit bly staan dat ’n plaaslike pensionaris R230 000, en ‘n padwaardige
voertuig kwyt is. Die fout lê by ’n ontoereikende stelsel, en ’n ongereguleerde mark wat voertuigkopers nie ondersteun nie.

Volgende keer as jy op die snelweg ry, wees bedag want dit kan dalk nog ’n “death trap” wees wat by jou verby ry. Doen jou huiswerk deeglik voordat jy die transaksie beklink.

*Dos Santos wou nie kommentaar lewer nie.

Related Articles

Back to top button