News

Besige brandseisoen verwag

Waar daar ’n rokie trek, is daar ’n vuurtjie. Die vereniging vir brandbestryding in Modimolle (FPA) waarsku dat boere moet seker maak dat hul die nodige permitte in plek het voordat hul voorbrande, brandbane en blokbrande moet doen.

Die brandseisoen het amptelik op Saterdag, 1 Junie begin.  Verlede week het twee brande in die Alma-omgewing reeds skade aan sowat 2 400 hektaar aangerig. Volgens Willem Crause van die Modimolle FPA is een van die brande deur weerlig veroorsaak, maar die oorsaak van die ander brand is nie bekend nie.

Boere in die Alma-omgewing het verlede week bontgestaan om brande te blus. Foto: Verskaf.

 

Die Modimolle-omgewing het ’n redelike brandseisoen verlede jaar beleef, teenoor die verwoestende brande wat in Bela-Bela en omgewing van die Mabalingwe-natuurreservaat uitgebreek het.

“Ons is bekommerd oor vanjaar se brandseisoen. Ons is nie gewoond daaraan om so vroeg reeds sulke groot brande te hê nie. Die feit dat ons al reeds ryp gehad het en die ongereelde reënbuie wat geval het, verhoog die risiko vir groot veldbrande,” het Crause gesê.

Boere wat op hul plase wil brand, moet vir die nodige permitte aansoek doen. Volgens die FPA mag geen brande daarsonder gedoen word nie. ’n Permit sal slegs uitgereik word indien die weer gunstig is, die risiko nie groot is nie en daar genoegsame toerus-
ting, arbeid en voorbereiding is.

Vir die brand van asgate, lande, vuurbane en strategiese brande, moet daar by die Modimolle FPA aansoek gedoen word om ’n permit.

Vir blokbrande moet daar by beide die Modimolle FPA en die departement van landbou aansoek gedoen word. Crause kan by tel. 060 518 1387 geskakel word vir die FPA-permitte.

* Working on Fire sê dat meer as 500 vuurvegters van 26 van hul basisse in die provinsie reeds hul geelkaart-opleiding-assesserings voltooi het. Die brandbestryders van Mogalakwena, Molemole, Mapungubwe, Tzaneen en Soekmekaar het hul assesserings voltooi en is gereed vir die komende brandseisoen. Volgens WOF-Kishugu Limpopo-woordvoerder, Ofentso Letswalo, verwag hulle ook ’n besiger brandseisoen as in vorige jare. Hy het gesê dat hoewel die brandseisoen van Junie tot Oktober strek, hulle tot dusver reeds brandbestryders na meer as dertig brande toe uitgestuur het.

Hul brandbestryders word opgelei in gespesialiseerde brandbestrydingstegnieke, teoretiese kennis en slang-identifikasie tydens hul opleiding. Dit sluit ook standaarde vir fiksheid in wat ’n 2,4 km lange hardloopsessie insluit, asook opsitte, opstote en optrekke binne ’n beperkte tyd insluit.

Related Articles

Back to top button