MunicipalNews

Dorpsdam blink weer

Ná ure se harde werk deur vrywilligers en ondernemings, lyk die dorpsdam in Modimolle, wat toegegroei was deur onkruid en waterplante, weer spoggerig.

Die inisiatief van die Waterberg Sakekamer en Aksie Opknap om die dorp netjies te maak blyk aansteeklik te wees, want verskeie sakelui het gevra of hulle betrokke kan raak by van die projekte.

Van die ondernemings het hul werkers gestuur om te kom help om die onkruid te verwyder en waterslaai van die damoppervlak te verwyder, terwyl ander onkruiddoder geskenk het en water en middagetes gebring het. Nog ’n onderneming het gesê dat hulle ’n palissade sal gee om die gebied af te sper.

“Afvoerslote langs die dam was vol rommel gewees en ’n sakeman het onderneem om vir ons ’n sif bo-oor te maak om te keer dat die rommel in die slote afspoel,” het Sonja Beukes gesê.

Sy is die bestuurder by die ModiMall wat langs die dam geleë is, maar is ook betrokke by die Waterberg Sakekamer en Aksie Opknap.

Tydens opknapping.

“Die dam was ’n seeroog gewees en kan eintlik ’n mooi bate vir ons dorp wees. Dit is net een van vele projekte wat die sakekamer aanpak. Ons wil volgende daarna kyk om die dorp se ingang vanaf die snelweg se kant ook netjies te maak,” het sy gesê.

Sakelui word uitgenooi om deel te word van hierdie projek.

“Ons wil die gras langs die pad en naby die brug kort sny en netjies maak rondom die brandweerstasie,” het sy gesê.

Die sakekamer het onlangs met die munisipale bestuurder, Ben Thobela, vergader om hul planne te bespreek.

“Dit was ’n goeie vergadering gewees en ons is bly om te sien dat die munisipaliteit besig is om die gras oorkant die Pick n Pay-sentrum te sny,” het Beukes gesê.

Kort gras verminder ook die veiligheidsrisiko. Die sakekamer en Aksie Opknap beplan om die lang gras by die Abraham Krielkinderhuis en die nabygeleë opgaardam kort te sny.

“As elke inwoner verantwoordelikheid neem vir sy eie erf en die deel om dit, dan sal ons dorp alreeds baie beter daaruit sien. Ons is baie dankbaar vir almal wat bereid is om ons te help – hierdie projekte is tog tot voordeel van elkeen van ons.”

Related Articles

Back to top button