LifestyleNewsTravel

Russiese kultuurbaken skitter in soel aandlig

Terwyl die oorlog tussen Rusland en Oekraine steeds voort woed is hier nie te ver van Bela-Bela ’n Russiese argitektoniese wonder in skitterwit en goud wat ’n besoek werd is.

Die spierwit mure met hier en daar ’n geskilderde Bybelse figuur en goue koepels bo, troon groot in statuur toe ek en my meisiekind verlede Sondag laatmiddag voor die imposante Russiese Ortodokse kerk in Midrand stop.

Bo en onder: Die dekor aan die binnekant van die kerk slaan jou asem weg.

Ons is deel van ’n groep nuuskierige besoekers wat hier is om die kerk van nader te leer ken saam met die priester, Vader Danil Lugovoi, ’n Moskouniet wat sedert 2010 hier oor sy kudde waak.

Die kerk het sowat ’n 100 lidmate waarvan die meeste Russiese immigrante is. Daar is ook Engels en Afrikaanse lidmate wat die tradisionele dienste op Sondae-oggende bywoon. Die diens is sowat twee ure en jy staan die meeste van die tyd. Een keer ’n maand word ’n korter Engelse diens gehou.

Die Ortodokse geloof is saam met die Protestante en Roomse kerke die hoofgroepe binne die Christelike geloof.

Die dak se koepel met muurkuns deur ou Russiese vakmeesters noop jou om jou oë op te slaan na bo.

Met die instap snak almal na hul asem met die aanskou van die ou Russiese muurkuns wat opval, ook bo teen die dak van die koepel. Daar is ook ander interessante geloofoorblyfsels uit die geskiedenis wat insluit ’n goue glashouer met piepklein stukkies mensbeen-oorblyfsels uit Oekraine. Dié stukkies gebeentes van gestorwenes bly behoue omdat die grotte waarin hul ter ruste gelê is lyke stadiger laat ontbind.

Vader Lugovoi gesels oor die kerk se geskiedenis en interessante muurkuns, dan beduie hy ons moet buitentoe beweeg daar wag ’n verrassing.

Die priester, Vader Danil Lugovoi gesels met die besoekers.

’n Gedenkmuur is aan die een kant van die kerk opgerig vir Russiese soldate wat in die Anglo Boere-oorlog gesneuwel het. Dit was meestal Rooikruiswerkers en ambulansdrywers, vertel hy.

Afrikaanse kultuurgroepe lê gewoonlik een keer ’n jaar ’n krans hier om die Vrede van Vereniging te herdenk.

Ná die insiggewende toer kon ons in die kerksaal na die strelende klanke van die Johannesburgse strykkwartet, Pangea gaan luister.

Die Russiese Ortodokse kerk in Midrand.

Met die uitstap laataand val die vyf torings in koepelvorm op in die soel naglig. Dit is in die vorm van ’n kersvlam wat Jesus en sy dissipels se Evangelie simboliseer. Ek kan my net indink hoe mooi moet die klokke hier vanuit die kerktorings beier op spesiale dae.

Die prag kerk wat sowat 20 jaar terug hier verrys het, is die enigste Russiese Ortodokse kerk suid van die Sahara. Dit is ’n kultuurlandmerk wat jou sal verras.

Nóg sulke begeleide kerktoere saam met ’n musiekuitvoering deur bekende kunstenaars (klassiek opera tot ligte musiek) word vorentoe beplan. Diegene wat belangstel, kan gerus vir Sonnette Lombaard by tel. 072 333 6477 bel.

Related Articles

Back to top button