MunicipalNews

‘Hersien ons rekeninge!’

...dit is “waarskynlik dat geskatte lesings geneem is”

Talle Bela-Bela-inwoners het op Maandag 3 Julie behoorlik aan hul koffie gestik toe hulle hul munisipale rekeninge met buitensporige bedrae vir waterverbruik onder oë kry.

Inwoners het hul lot op sosiale media bekla. Van die klaers het gesê die bedrae wissel van R4 000 tot R200 000 vir waterverbruik vir slegs een maand. Een inwoner het homself tong-in-die-kies as die wenner verklaar met ’n rekening van R500 000.

Die meeste inwoners het aangedui dat hulle in die maande vooraf minder as ’n derde van die huidige lesings verbruik het en eis dat die munisipaliteit die rekeninge moet hersien.

Sommige inwoners het gesê dat geen lesings geneem is nie en dat die geskatte verbruik drasties meer is as die werklike verbruik. Hul was stomgeslaan oor hoe die munisipaliteit by dié bedrae uitgekom het.

Bela-Bela se watervoorsiening is boonop maar so-so, aangesien daar baie dae nie eens water in die krane is nie en inwoners moet
staatmaak op boorgate om die tenks vol te maak.

Die munisipaliteit se nuwe finansiële jaar het op Saterdag 1 Julie begin. Inwoners het dus geen rede gehad om te dink dat die verhoogde rekeninge met die nuwe tariewe verband hou nie.

Die munisipaliteit se huidige glyskaal waarteen waterverbruik gehef word, is steeds gebaseer op die 2022-2023-begrotingsraamwerk.

Vir elke kiloliter water (0kl tot 30kl) is die koste R19,06 vir huishoudings en R28,59 p/kl vir kommersiële eiendomme. Indien die maandelikse verbruik 30 kl oorskry, word bykomende kostes ingestel.

“Ek dink wat gebeur het, is dat die meterlesings geskat is omdat die munisipaliteit besig was om hul finansiële jaar af te sluit en in die proses nalatig was. Die fout is werklik ooglopend,” het Jeedee Cloete, VF Plus-raadslid, gesê.

Hy is sedert Maandag oorval deur inwoners wat navraag wil doen oor die foutiewe rekeninge.

Hy het aangedui dat daar wel inwoners is wat korrekte rekeninge ontvang het.

Peter Moloto, munisipale woordvoerder, het ook gesê dit is “waarskynlik dat geskatte lesings geneem is”.

“Ek het met die waarnemende hoof van finansies vergader en dit lyk tog of ’n tegniese fout in die rekeningstelsel opgeduik het. Die finansiële afdeling stel ondersoek in oor waar die haakplek op die sisteem was en inwoners sal eersdaags korrekte rekeninge ontvang,” het Moloto gesê.

Sover sy kennis strek word die lesings deur munisipale werkers geneem en nie deur kontrakteurs nie.

Moloto raai inwoners aan om ’n foto van hul huidige watermeterlesings te neem en die laaste drie maande se rekeningafskrifte na die munisipaliteit te neem.

Mense moet die bewyse aan die rekeningafdeling toon, het hy versoek.

Die Pos het hom gevra wat kan gebeur indien inwoners nie die foutiewe rekeninge aanmeld nie.

Sy reaksie hierop was dat mense dadelik ’n poging moet aanwend om die munisipaliteit so gou as moontlik te besoek, want indien mense dit nie doen nie, kan dit gebeur dat die munisipale stelsels die inwoner as ’n wanbetaler registreer en hul dienste kan afgesny word.

“Die munisipaliteit wil alles in hul vermoë doen om sulke foute te voorkom en daarom vra ons inwoners se samewerking om foute te rapporteer.”

Cloete het teen druktyd gesê die munisipaliteit sal hierdie week nuwe rekeninge uitstuur.

Related Articles

Back to top button