BusinessNews

Finansies: Maak voorsiening vir aftrede – deel 4

In vandag se rubriek gesels ons oor wat ’n mens te doen staan op die dag van aftrede.

Die klok het gelui! Jou aftreegeld is bymekaar gemaak, die beplanning is gedoen en nou moet implementering plaasvind. Jy het die punt bereik waar geld voortaan vir jou moet werk en nie meer jy vir geld nie.

Jy is nou ’n pensioenaris wat ’n pensioen by jou gewese werkgewer se pensioenfonds sal kry of uit jou eie privaat pensioenfonds, asook uit jou ander beskikbare beleggingskapitaal of spaargeld.

Hierdie situasie laat ’n mens dink aan die persoon wat ’n erf gekoop het, ’n bouplan laat optrek het, dit klaar gebou het en vandag intrek. Die meublement moet nou net reggeskuif word en op die regte plek staangemaak word, saam met die ander dekor-items en dan ten laaste die skilderye op die beste plek teen die mure op te hang.

Elke mens se omstandighede is uniek, maar daar is tog heelwat belangrike algemene beginsels wat geldsake betref, net soos elke huis ’n sitkamer, slaapkamers, kombuis en so aan het. Net so met jou aftreegeld — die korrekte skuiwe na beleggingsfondse moet nou gedoen word. Jou maandelikse begroting word gediens deur die regte persentasie inkomstetrekkings uit die regte beleggingskema te neem (behalwe as jy ’n vaste pensioen van jou werkgewer se pensioenfonds ontvang).

Die geld wat jy geallokeer het vir kapitaalbehoeftes soos jou noodfonds, voertuig, aftreeplek, afbetaling van jou skuld ensomeer, word nou aangewend en kom uit die pad van die geld wat jy oor die medium- en langtermyn belê om jou teen inflasie te beskerm en om deeglik voorsiening vir die toekoms te maak.

Sodoende skep jy nie net rustigheid vir jouself nie, maar ook die vaste wete dat jou beplanning in plek is. Daarom is jou beleggingskapitaal nou van groot belang.

Die belegging van aftreegeld is so ’n onlosmaaklike deel van aftreebeplanning, dat ek wil fokus op meer besonderhede oor beleggingsopsies.

Faktore wat belangrik is, sluit in risiko’s, die opbrengs, termyn, likiditeit en belasbaarheid van beleggings, asook ekonomiese- en politiese stabiliteit van die plek van belegging (geografiese faktor). Die verskillende bate-klasse soos kontant, effekte, eiendom en aandele sal in volgende aflewerings bespreek word.

Dit is ’n mondvol, maar as jy nie elke nou en dan die meubels wil rondskuif nie, sal dit help om vooraf die grootte van elke meubelstuk en die doel daarvan mooi te oorweeg en seker te maak dat dit sag op die oog is. Goeie oorweging vir plasing van jou kapitaal in die korrekte bateklasse, met inagneming van bogemelde faktore, verg deeglike beplanning.

Dit behels ook ander beleggingsdoelwitte en nie net oor aftreegeld alleen nie.

Related Articles

Back to top button