MunicipalNews

Sakekamer vergader met Helen Zille

Die Waterberg-sakekamer het op Donderdag 21 Julie met Helen Zille, voormalige leier van die Demokratiese Alliansie (DA), voormalige burgemeester van Kaapstad en premier van die Wes-Kaap, vergader tydens Zille se kort besoek aan Modimolle.

Zille is tans voorsitter van die DA se federale raad en het Modimolle besoek as deel van die DA se verkiesingsveldtog vir die komende tussenverkiesing in Wyk 12.
Gerhardt Breytenbach (voorsitter), Fernando Goncalves (Pavecon), Kevin Travis (Spif-hoenders), Jorrie van der Walt (Meatrite) en Martiens Joubert (Action Ford) het die sakekamer verteenwoordig om aktuele kwessies met Zille te bespreek.

Die hoofrede vir die sakekamer se vergadering met Zille en Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, was om ’n onlangse dispuut met die owerheid te bespreek. Volgens Breytenbach het sakelui ’n dispuut teen die munisipaliteit verklaar weens die beweerde onregmatige heffing van tyd-van-verbruik (TOU) elektrisiteitstariewe.

Die Pos het in vorige uitgawes berig dat die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) steeds nie die implementering van die TOU-elektrisiteitstarief-struktuur vir die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit goedgekeur het nie. Juis daarom word aangevoer dat die munisipaliteit nie by magte is om hierdie tariewe te hef nie. Die Pos het intusssen verneem dat Nersa wel op Maandag 4 Julie goedkeuring gegee het vir die onmiddellike implementering daarvan.

Volgens Breytenbach was sekere sakeondernemings stomgeslaan toe hulle onlangs hul munisipale rekenings ontvang het met ’n enorme verhoging in elektrisiteitstariewe — in sommige gevalle tussen 67-77 % meer as die voorafgaande maande.

“Dit is veral groot kragverbruikers soos Meatrite en Spif-hoenders wat die swaarste getref is deur hierdie styging,” het hy gesê.

Die sakekamer het hierdie situasie aan Zille uitgewys en verduidelik dat dit nie ekonomies lewensvatbaar is nie en sal lei tot ’n ekonomiese krisis in die dorp en gemeenskap.

Van Staden het tydens die vergadering te kenne gegee dat sy nie bewus was daarvan dat die munisipaliteit die TOU-tariefstruktuur geïmplimenteer het nie.

Sy het gesê die munisipaliteit het voorheen onderneem om hierdie TOU-tariefstruktuur in oorleg met sakelui geleidelik oor ’n langer tydperk in te faseer.

“Ek wag vir terugvoer van die finansiële bestuurder,” het sy gesê.

Zille het aan Die Pos gesê sy het haar kantoor opdrag gegee om hierdie saak te ondersoek.

Daar is intussen ’n kommunikasieplatform geskep om direkte kommunikasie tussen haar kantoor en die sakekamer te bewerkstellig vir terugvoer oor hierdie kwessie.

Volgens Breytenbach is ’n vergadering met die munisipaliteit se regsafdeling gereël vir Woensdag 27 Julie.

Indien ander sakeondernemings ook op die TOU-tariefstruktuur aangeslaan is, word hulle aangemoedig om die sakekamer se koördineerder, Maggie Grobler, tussen 08:00 en 13:00 te bel by tel. 072 633 3958 of ’n e-pos te stuur na info@waterbergsake.co.za vir meer inligting.

  • Die mosie van wantroue wat onlangs deur ANC-raadslede teen Van Staden gelê is, is amptelik op Dinsdag 19 Julie teruggetrek.

Related Articles

Back to top button