MunicipalNews

Modi-vullisterrein se toestand wek kommer

Die inwoners van Modimolle is diep bekommerd oor die haglike toestand van die vullisstortingsterrein wat net buite die dorp langs die R101-deurpad en Uitbreiding 10 van die Phagameng-township is.

Die Pos het foto’s ontvang van karkasse wat in groot hope daar afgelaai word. Talle inwoners wat huishoudelike- en tuinvullis by die terrein gaan stort het, vertel dat hierdie grieselrige vragte reeds geruime tyd daar gestort word.

Mariska Greyling, kandidaat van die VF Plus vir die komende tussenverkiesing in Wyk 12, het aan Die Pos vertel dat inwoners haar drie weke gelede gekontak het oor hierdie probleem. Sy het self die vullisterrein besoek en vertel dat mense wat glas en plastiek sorteer vir herwinning, reg langs die verrottende karkasse sit en werk. Daar is deurgaans ’n verstikkende reuk in die lug.

“Dit wil voorkom asof hierdie karkasse dié is van wildsbokke en selfs kameelperde. Daar was ook krokodilpote tussenin,” het sy gesê.

Die Pos het by Ben Smit, gesondheidsinspekteur van Modimolle, gaan aanklop. Smit het tot in 2007 vir die plaaslike munisipaliteit gewerk waarna hy na die Waterberg-distriksmunisipaliteit oorgeplaas is.

Volgens hom behoort daar streng toegangsbeheer by ’n vullisstortingsterrein te wees om die hoeveelheid vullis wat inkom te bepaal sodat die verwerking daarvan bestuur kan word. Tweedens help toegangsbeheer ook om enige onwettige stortings te voorkom.

“Ingevolge wetgewing word alle giftige of vretende organiese- en diere-afvalprodukte as gevaarlik vir mense en die omgewing beskou. Sulke afval lok vlieë en aasdiere en moet daarom op ’n spesifieke manier verwerk word,” het hy gesê.

Smit het verduidelik dat instansies wat sulke afval in die verlede wou stort vooraf met die munisipaliteit reëlings getref het. Daar is dan slote met ’n diepte van 2-3 m met ’n laaigraaf gegrawe sodat die karkasse met minstens twee meter grond bedek kon word. Dit is die enigste veilige manier om sulke afval te verwerk, het hy gesê. Diere-afvalprodukte mag nie verbrand word nie omdat dit slegte reuke en lugbesoedeling veroorsaak.

Die plaaslike munisipaliteit se afdeling vir sosiale dienste is verantwoordelik vir die hantering van afval en is dus in beheer van die vullisstortingsterrein. Met die ontwikkeling van die nuwe perseel is die vorige stortingsterrein, wat nou in so ’n haglike toestand is, se permit deur die departement van waterwese en omgewingsgesondheid teruggetrek.

Die Pos het met Edwin Mogoane, waarnemende direkteur van sosiale dienste, gesels oor die uitdagings by die munisipale vullisstortingsterreine. Hy het verduidelik dat daar die afgelope drie weke nie meer ’n laaigraaf en stootskraper op die perseel is nie omdat daar glo probleme was met die owerheid se betalings aan die betrokke kontrakteur. Sodra dit reggestel is, kan die kontrakteur weer voortgaan om die vullis bymekaar te stoot en die karkasse te begrawe.

Mogoane het gesê daar is bedags ’n opsigter op die perseel wat moet toesien dat die vullisterrein goed bestuur word en niemand onwettig vullis stort nie. Die probleem is egter dat daar geen toegangsbeheer tot die perseel is nie, want die hek en omheining bestaan nie meer nie. Die owerheid het ook nie saans veiligheidswagte op die perseel nie wat beteken kansvatters benut die geleentheid om hul vragte onwettig te stort.

Nog ’n probleem is die toeloop van mense wat skrootmetaal bymekaar maak om te verkoop vir kontant.

Volgens Mogoane moet informele herwinners by die munisipaliteit registreer voordat hulle by die vullisterrein mag werk. Hy het gesê daar is ongeveer 20 geregistreerde mense, maar dat daar gedurig probleme is met ander mense wat ook op die vullis toesak. Hoewel die polisie gereeld die moeilikheidmakers verjaag, keer hulle telkens net weer terug.

Die munisipale woordvoerder het voorheen al genoem dat die munisipaliteit nie kan bekostig om ’n nuwe kompakteerder, wat ongeveer R10 miljoen kos, vir die nuwe vullisterrein te koop nie.

Die nuwe perseel aan die onderpunt van Collinsstraat naby die Driehekke-omgewing sou na raming twee jaar gelede reeds in gebruik gewees het, maar weens die Covid-19-pandemie was daar heelwat vertragings met die verkryging van geld en die nodige permitte. Die owerheid het ook ’n spesiale versoek gerig om ’n stootskraper, wat ongeveer R4 miljoen kos, in die plek van ’n kompakteerder aan te skaf. Die strootskraper sal uitsluitlik by die perseel gebruik word.

Related Articles

Back to top button