MunicipalNews

Mookgophong se strate weer skoon

Verskeie rolspelers en inwoners van Mookgophong het deelgeneem aan die Mookgophong-skoonmaakveldtog wat op Donderdag 14 Julie plaasgevind het.

Die tema “Hou ons munisipaliteit skoon” was ’n projek in aanloop tot Mandeladag (18 Julie) se 60 minute diens aan die gemeenskap,” het burgemeester Marlene van Staden gesê.

“Ons het honderde swartsakke rommel opgetel en André Joubert, ’n baie betrokke inwoner, het gehelp om die onwettige stortingsgebied agter Eerste Nasionale Bank (FNB) met ’n laaigraaf skoon te maak, het Van Staden gesê.

Sowat 100 inwoners het ingespring om die sakegebied in die dorp op te ruim. Sommige van die helpers het langs strate in die woongebied rommel opgetel. Die deelnemers aan die “Face of Mookgophong”-kompetisie was daar om te help.

Van Staden het raadslede Marita Louw en Solly Malatsi en die munisipale werkers, asook borge, bedank vir hul bydrae om die projek so ’n reusesukses te maak.

Die sokkerspelers van die Marumo Gallants, ’n bekende sokkerklub in Limpopo, was ook daar om hand by te sit. “Om ons dorp en die hele land skoon te hou, is nie net die verantwoordelikheid van die munisipaliteit nie, maar elke landsburger moet besef dat die onus ook op hul skouers lê om die land skoon te hou,” het Van Staden gesê.

Inwoners van die dorp is baie dankbaar oor die projek, maar is ook baie bekommerd oor die dorp se stortingsterrein wat geruime tyd al oorvol is. “Daar word nou al vullis in die pad by die hekke gestort en dit hou ’n groot gesondheidsgevaar in,” het ’n anonieme inwoner aan Die Pos gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button