AdvertorialNewsSponsored

Die kolonel sou sommer baie trots gewees het

Kol. Harland David Sanders wat die bekende Kentucky Fried Chicken (KFC) in die 1950’s in ’n internasionale franchise omskep het, sou baie trots gewees het op dié sakeonderneming se Bela-Bela-bande.

Sy vinger-lek-lekker suksesverhaal weerklink deesdae in die kantore van Kwa Pele Foods wat voorheen as Clabo-beleggings in Bela-Bela sake gedoen het. Dié maatskappy besit en bestuur KFC-restaurante oor die lengte en breedte van Suid-Afrika.

Kwa Pele Foods het op Vrydag 1 Julie hul 40ste herdenking as maatskappy gevier.

Die hoogtepunt van die vieringe was ’n tema-byeenkoms vir die personeel wat op Woensdag 13 Julie in die kerksaal van die NG Warmbad-Wes-gemeente in Bela-Bela gehou is.

Personeellede het saam met gaste en vorige werkers om tafels aangesit en ’n terugblik gekry oor die stigting en groei van dié maatskappy onder die bekwame leiding van wyle Fanie Mostert.

Sy seun, Reinier Mostert, besturende direkteur van die maatskappy, het vir gaste ’n kykie in dié geskiedenis gegee.

Elke sakeman het ’n sterk vrou om op te leuen. Op die foto is Analene Mostert, vrou van wyle Fanie Mostert (stigter van KFC in Bela-Bela), wat ’n sentrale rol in die bestuur van die onderneming en gesin gespeel het. Die Lephalale KFC-restaurant behoort aan haar.

Fanie Mostert het in 1981 ernstige hartprobleme ervaar en sy droom om ’n maatskappy tot stand te bring ’n bietjie opsy geskuif. Hy het in 1982 as 41-jarige man’n veevoermaatskappy, Fedpro, van mislukking gered. Sy planne om die maatskappy tot nuwe hoogtes te neem, is egter grootliks deur die Fedpro-direksie afgeskiet. Dit het Fanie genoop om te bedank by Fedpro en sy planne vir ’n eie maatskappy in heroorweging te neem.

In dié tydperk het KFC (toe nog Kentucky Fried Chicken) na ’n goeie beleggingsgeleentheid gelyk. KFC was toe skaars 10 jaar in Suid-Afrika en het reeds goeie groei getoon.

Fanie het besluit om die 201ste KFC-restaurant in Bela-Bela te begin.

Sy kinders, Reinier, Roline en Elmarie, het saam met sy vrou, Analene, in Benoni aan die Oos-Rand agtergebly om die skooljaar te voltooi. Daarna het die twee dogters saam met hul ouers na Bela-Bela verhuis en hul skoolloopbaan aan Hoërskool Warmbad voltooi.

Reinier vertel dat die eerste restaurant in Bela-Bela geen sitplekke gehad het nie en dat die gewilde roomys en ander disse toe nog nie op die spyskaart was nie. KFC was toe al bekend vir hul vinger-lek-lekker-hoenderporsies.

Die bekende Kolonel-burger se burgervleis is in die winkel self verwerk, het hy vertel. Die winkels was destyds nie verbind aan ’n gestandaardiseerde pryslys nie. Die Bela-Bela-restaurant was die enigste KFC waar kliënte koekstruifpoeding en koperpenniewortelslaai kon koop.

Fanie het twee ander werke beklee om die pot aan die kook te hou en KFC van die grond af te kry.

Dit was gedurende die stigtingstydperk dat hy Clabo Beleggings (Claassens Bouers) by die onderneming geïnkorporeer het.

Een van die oorspronklike werkers, Lucy Ameer, is tot vandag toe by die maatskappy.

Sy het aanvanklik as skoonmaker begin en later as kok diens gedoen. Fanie het haar potensiaal gesien en haar opgelei as kassier. Sy onthou hoe sy ’n groot kontant-aansporingsbonus ontvang het omdat sy die vriendelikste kliëntediens gelewer het. Sy behartig deesdae opleiding vir ander personeel in die Kwa-Pele Foods-groep.

Reinier onthou dat hul eerste rekenaar vir die maatskappy ’n Apple IIe was. Soos met ander jongmense het hy ook die kans gevat om rekenaarspeletjies daarop te speel tot sy pa se groot ontevredenheid. Daardie eenvoudige rekenaar was die finansiële hartklop en stoor van die maatskappy se rekords. Hy sê alle verslae is destyds nog per hand gedoen en daarna op die rekenaar “ingelees”.

Fanie het in 1984 ’n lening van R50 000 by Eerste Nasionale Bank aangegaan en die KFC in Naboomspruit (nou Mookgophong) geopen. Enkele jare later het die KFC in Ellisras (Lephalale) se deure geopen.

In 2002 — slegs 20 jaar na die stigting van Clabo-beleggings — het hulle sewe KFC-restaurante besit en bestuur. Reinier het in 2003 by die maatskappy aangesluit.

Die maatskappy het toe uitgebrei na Mosselbaai, Ficksburg, Heidelberg en Nigel. Op Clabo-beleggings se 25ste verjaardag het hulle uitgebrei na 17 restaurante.

Vandag bestuur hulle 53 restaurante in vyf provinsies in Suid-Afrika.

Reinier het gesê sy pa, wat in 2016 oorlede is, sou baie trots gewees het oor die 24-uur-diens en ook die deurry-diensrestaurante. Hy dink hy sou ook baie van die roomys gehou het.

Clabo se handelsnaam is later na Kwa Pele Foods verander.

Die maatskappy spog met talle toekennings van die KFC-hoofkantoor soos Ontwikkelaar van die Jaar, Handelsmerkbouer van die Jaar, Bemarker van die Jaar, asook Bemagtiger van mense. Die internasionale franchise van die jaar-trofee was ook al in hul vertoonkas.

“Die dag toe ek dié toekenning ontvang het, het ek Isaac Newton aangehaal: Wanneer ek verder as ander kon sien, was dit omdat ek op die skouers van reuse gestaan het. My pa, Fanie Mostert, was een van daardie reuse wat die fondasie vir ons gelê het om op te bou.”

Renier het gesê hy bring ook graag eer aan ander reuse, soos sy ma, wat die gesin deur die jare deur dik en dun bygestaan het. Elke personeellid en ander rolspelers het bygedra tot waar ons waar vandag is. Saam is ons Kwa Pele Foods.”

Related Articles

Back to top button