MunicipalNews

Modimolle (al weer) op ’n mespunt

Inwoners is uiters gefrustreerd met die munisipaliteit se gebrek aan toeganklikheid en trae reaksie op klagtes.

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se raad is weer in ’n tweestryd gewikkel sedert die bedanking van die DA-wyksraadslid, Sarna Groenewald, in Mei vanjaar.

Die vakante setel, wat eers ná die tussenverkiesing op Woensdag 3 Augustus gevul kan word, beteken dat die ANC tans ’n meerderheidstem het.

Die partye was na afloop van die munisipale verkiesing op 1 November 2021 kop-aan-kop met 14 setels vir die ANC, sewe setels vir die DA, vier setels vir die EFF en drie setels vir die VF-Plus.

Die opposisiepartye het daarna saamgestaan wat dit op 14 setels elk te staan gebring het.

Die Pos het ’n interne dokument wat deur die speaker uitgestuur is gesien waarin die hoofsweep van die ANC, Rufus Mahoro, ’n agenda-item versoek het om ’n mosie van wantroue teen die huidige burgemeester, Marlene van Staden, ter tafel te lê. Die spesiale raadsvergadering was geskeduleer vir Dinsdag 12 Julie, maar is uitgestel na 10:00 op Maandag 18 Julie omdat daar nie ’n kworum teenwoordig was nie.

Volgens die munisipale strukturewet kan ’n mosie van wantroue toegestaan word indien daar ’n kworum bereik word tydens die betrokke raadsvergadering. Dit beteken dat daar 15 van die 28 raadslede teenwoordig moet wees voordat ’n stemming oor enige aangeleentheid kan plaasvind.

Daar is reeds geruime tyd gerugte dat ’n mosie van wantroue teen die burgemeester ingedien sou word juis noudat daar ’n tydelike geleentheid vir die ANC-raadslede is om munt te slaan uit die vakante setel. Dit word glo deur die ANC se burgemeesterskandidaat, Aaron Sebolai, aangevuur. Sebolai dien tans as proporsionele raadslid op die owerheid se uitvoerende komitee.

Die Pos het ’n afskrif van die oorspronklike mosie gesien met talle aantygings teen die burgemeester, onder meer die beweerde versuim van haar plig om die munisipaliteit se finansiële herstelplan te bestuur, asook die “mislukking van talle kapitaal projekte”.

Van Staden word ook aangevat oor die sogenaamde negatiewe persepsie van die owerheid by die gemeenskappe van Modimolle, Mookgophong, Vaalwater, Alma en Roedtan. Hierdie negatiewe beeld spruit glo grootliks voort uit die onvermoë van die owerheid om basiese dienste aan die gemeenskap te lewer. Hierdie funksie is egter die verantwoordelikheid van die munisipale bestuurder en die direkteur van tegniese dienste (elektrisiteit, water, sanitasie, paaie), asook sosiale dienste (vullisverwydering).

Oor bewerings van politieke inmening, het Van Staden gesê: “Dit is soms noodsaaklik om direk met amptenare te skakel sodat probleme met riool, dienslewering, elektrisiteit, foutiewe rekenings en dies meer so spoedig moontlik reggestel kan word.

“Inwoners is uiters gefrustreerd met die munisipaliteit se gebrek aan toeganklikheid en trae reaksie op klagtes. Daarmee saam ontvang raadslede ook nie altyd volledige inligting rondom diensleweringsprobleme nie en kan daar nie betyds korrekte inligting aan die gemeenskap deur gegee word nie,” het sy gesê.

Luidens ’n mediaverklaring wat op Vrydag 8 Julie deur Essob Mokgonyana, hoofsweep van die provinsiale ANC-koukus, uitgereik is, is ’n versoek by die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (CoGHSTA) ingedien om ondersoek in te stel na beweerde korrupsie deur die burgemeester. Daar word aangevoer dat sy skuldig is aan finansiële wangedrag wat betref die onregmatige eise vir reisuitgawes.

Die Pos het tydens ’n vergadering met Van Staden een van haar lêers gesien waarin sy sedert 2016 boekhou van al haar reis-
uitgawes, met afskrifte van uitnodigings na verskeie byeenkomste en vergaderings. Daar is onder meer ook ’n aparte kolom vir persoonlike reisuitgawes wat volgens haar nie van die munisipaliteit teruggeëis word nie.

Van Staden het verduidelik dat sy sedert 2016 die gebruik van ’n amptelike voertuig gehad het met ’n vlootkaart vir brandstof, maar in Desember 2021 haar eie voertuig gekoop het.

Sy het aan Die Pos gesê: “Ek verwelkom die ondersoek sodat hierdie bewerings en gerugte vir eens en altyd verkeerd bewys kan word.”

Related Articles

Back to top button