MunicipalNews

Werk aan Limpopostraat-laagwaterbrug eers op ys weens dispuut met owerheid

Die konstruksie van ’n nuwe laagwaterbrug en toegangspad in Limpopostraat, wat aansluit by Joe Slovostraat in Modimolle, het baie goed gevorder — tot nou.

Volgens die munisipaliteit se oorspronklike projekplan sou die brug teen einde Junie voltooi gewees het.

Daar is egter vir meer as ’n maand al geen werkers op die perseel nie en die brug is nog nie naastenby voltooi nie. Die Pos het gaan ondersoek instel en verneem dat daar ’n dispuut tussen die munisipaliteit en die kontrakteur is.

Konstruksie is vertraag weens die swaar reën van die afgelope paar maande en die kontrakteur het glo ’n versoek aan die owerheid gerig om die projek se tydperk te verleng. Buiten die reënwater wat heeltyd by die basis van die brug opdam, is daar ook gereeld rioolwater wat vanaf die woongebied kom en langs die konstruksieperseel in die rivierbedding opdam. Die munisipaliteit is verantwoordelik vir die onderhoud en instandhouding van die rioolnetwerk, maar daar is voortdurend blokkasies in die laagliggende dele van die dorp.

Die kontrakteur was daarom genoodsaak om ’n tydelike plan op Vrydag 13 Mei te maak deur groot hoeveelhede grond oor die opgedamde rioolgemors langs die brug te gooi sodat werk kon voortgaan. Dit alles het ’n negatiewe impak op die projek gehad en die konstruksie bemoeilik.

Die Pos het ’n skrywe van die kontrakteur gesien waarop die munisipaliteit op Saterdag 25 Junie in kennis gestel word dat alle werk tydelik gestaak word totdat die dispuut opgelos is. Saam met die versoek om die tydlyn te verleng, het die skrywe ook verduidelik dat die kontrakteur bykomende werk verrig het om die projek suksesvol te maak. Hierdie afwyking van die oorspronklike plan is glo skriftelik aan die munisipaliteit gerig, het Die Pos op goeie gesag verneem.

Die kontrakteur beweer glo dat die versoek om ekstra materiaal te koop reeds op Maandag 6 Junie aan die owerheid gestuur is sonder enige skriftelike terugvoer teen 25 Junie. Die kontrakteur voer voorts aan dat die uitstaande betalings ook hul kontantvloei belemmer wat dit onmoontlik maak om na die perseel terug te keer.
V

olgens Marlene van Staden, burgemeester, het Christopher Mahlaule, direkteur tegniese dienste, tydens die maandelikse munisipale raadsvergadering op Woensdag 29 Junie in Modimolle verduidelik wat aanleiding gegee het tot die dispuut. Daar word aangevoer dat die munisipaliteit wou wag tot die aanvang van die nuwe boekjaar (1 Julie) om die ekstra tyd en koste goed te keur. Daarmee saam moet die versoek vir afwykings deur die provinsie goedgekeur word omdat hierdie projek deur ’n munisipale infrastruktuur toelaag (MIG) befonds word.

Luidens die mediaverklaring van die munisipaliteit wat op Woensdag 29 Junie uitgereik is, is Mahlaule en die waarnemende munisipale bestuurder, Magda Berrange, saam met die betrokke administratiewe amptenare besig om die papierwerk in orde te kry sodat die projek eersdaags kan voortgaan.

Related Articles

Back to top button