MunicipalNews

Modimolle-Mookgophong-inwoners krap kop oor tariewe

Sakeondernemings en boere van Modimolle, Mookgophong en Vaalwater krap kop oor die nuwe elektrisiteitstariewe wat vanaf Vrydag 1 Julie deur die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit gehef word.

Volgens die inligting wat die munisipaliteit in Die Pos se uitgawe van Vrydag 24 Junie geplaas het, sal alle landbou- en kommersiёle instansies se elektrisiteit volgens die tyd-van-verbruik (TOU) tariefstruktuur bereken word.

Dit is teenstrydig met die munisipaliteit se mediaverklaring van Dinsdag 31 Mei wat bevestig het dat die TOU-struktuur nog nie deur die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) goedgekeur is nie.

Hierdie knelpunt is vroeёr ook onder die aandag van die munisipaliteit gebring toe die Waterberg-sakekamer op Dinsdag 24 Mei amptelik kapsie gemaak het teen die voorgestelde begroting vir die 2022/2023-boekjaar. Die skrywe is deur Gerhardt Breytenbach, prokureur en voorsitter van die sakekamer, gerig na afloop van die vierde begrotingsvergadering met belanghebbendes wat op Maandag 23 Mei in Modimolle gehou is.

Daar is spesifiek beswaar aangeteken teen die voorgestelde verhoging van die elektrisiteitstariewe, tesame met die betwisde TOU-struktuur. Die sakekamer eis dat die TOU-tariewe van die konsepbegroting geskrap moet word totdat daar uitsluitsel van Nersa hieroor gegee is.

Dit wil nou voorkom asof die TOU-tariewe foutiewelik by die amptelike koerantkennisgewing van alle munisipale tariewe ingesluit is. By die huishoudelike tariewe word die TOU-struktuur, asook die normale vasgestelde tariewe aangedui. Inwoners moet dus noukeurig oplet om die korrekte tarief te vind.

Die landbousektor, asook kommersiёle tariewe vir alle tipe sakeondernemings, hetsy met grootmaat-, enkel- of driefasekrag vir voorafbetaalde- en munisipale rekeninghouers, is egter almal foutief aangedui as TOU-tariewe.

  • Die datum waarop die regstelling gedoen sal word is nog nie deur die munisipaliteit bevestig nie.

Volgens Nersa is die verhoging op elektrisiteitsverbruik 7,47% vir alle munisipale verbruikers wat vanaf 1 Julie gehef sal word. Sakelui kan intussen self hul nuwe tarief met die genoemde verhoging bereken.

Buiten die elektrisiteitstariewe wat verhoog is, het die plaaslike owerheid heffings op basiese dienste onveranderd gehou.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het verduidelik:

“Gegewe die swaar ekonomiese toestande wat ons inwoners in die gesig staar, was die raad se aanbeveling dat heffings op basiese dienste soos water, sanitasie, vullisverwydering en eiendomsbelasting, nie verhoog moet word nie. Die munisipaliteit se kontantvloeiprobleme moet deur verbeterde bestuur, eerder as tariefverhogings aangesuiwer word,” het sy gesê.

Van Staden het ook gesê:

“Die munisipaliteit word deur die provinsiale tesourie departement bygestaan om ’n befondsingsplan, wat die betaalreёlings met die owerheid se grootste krediteure soos Eskom en Magalies Water insluit, saam te stel.”

Van die ander heffings wat ook onveranderd bly, is die dorpsbeplanningsfooie, begraafplase, biblioteekdienste, die aanbring van plakkate, die uitreik van sertifikate en voorsiening van inligting, asook die koste om munisipale geriewe (sportstadions en lokale) te verhuur.

Hulpbehoewendes ontvang steeds 50 kW krag en 6 kl water gratis en betaal ook nie enige eiendomsbelasting nie. Kleinhoewes wat geen dienste van die owerheid ontvang nie, ontvang 20% korting op hul eiendomsbelasting terwyl die landbousektor 30% korting ontvang. Pensioentrekkers kom ook in aanmerking vir korting op hul eiendomsbelasting indien hul totale maandelikse inkomste minder as R9 000 per maand is.

Die munisipaliteit se totale kapitaalbegroting vir die nuwe boekjaar is bykans R140 miljoen wat deur nasionale munisipale toelaes vir infrastruktuur, water en sanitasie en elektrisiteit befonds word. Volgens die munisipaliteit se mediaverklaring sal kapitaalbesteding daarop gemik wees om die kritieke rioolprobleme in Modimolle en Mookgophong aan te spreek. Daar sal ook gepoog word om die watervoorsiening aan al vyf dorpe wat onder die plaaslike owerheid val, te verbeter.

Luidens die verklaring word die totale operasionele begroting op R733 miljoen geraam. Dit sluit 7% van die uitgawes in wat vir instandhoudingsverwante kwessies begroot is. In die huidige boekjaar beloop die totale salarisrekening bykans R18 miljoen per maand vir die ongeveer 600 amptenare. Die nasionale bedingingsraad het ’n salarisverhoging van 4,5% vir alle amptenare vasgestel. Dit beteken ’n bykomende uitgawe van R810 000 per maand of altesame R 9,7 miljoen oor 12 maande.

Related Articles

Back to top button