MunicipalNews

Modi-inwoners help opruim, maar verwag van raad om sy kant te bring

Inwoners en sakelui van Wyk 12 in Modimolle het saamgewerk om op Saterdag 25 Junie hul wyk skoon te maak.

Hierdie skoonmaak-aksie was noodsaaklik weens die plaaslike munisipaliteit se gebrekkige vullisverwydering die afgelope paar maande.

Wiets Botes, sakeman en inwoner wat die skoonmaak-aksie gekoördineer het, het namens die gemeenskap op Maandag 4 Julie ’n memorandum aan die waarnemende munisipale bestuurder, Magda Berrange, oorhandig.

Hierdie memorandum wat aan Berrange en Edwin Mogoane, waarnemende direkteur van sosiale dienste gerig is, het verduidelik dat die gemeenskap alle vullis in die betrokke wyk verwyder het. Die gemeenskap se verwagting is dat die munisipaliteit moet onderneem om in die toekoms alle vullis volgens die weeklikse skedule te verwyder.

Botes, wat ook die DA se verkose kandidaat is vir die tussenverkiesing wat eersdaags in Wyk 12 plaasvind, het die talle vrywilligers wat vanaf Wyk 12 tot in Wyk 11 gehelp het, bedank vir hul gewillige diensbaarheid.

Hy het aan Die Pos gesê inwoners moet saamstaan om die sigbare agteruitgang in woonbuurte teë te werk. Hoewel hy nie ’n voorstaander van selfdoenprojekte is nie, is daar geen ander manier om die huidige diensleweringskrisis aan te spreek nie, het hy gesê.

Intussen het inwoners en ander DA-lede nog verder gewerskaf om al die kragbokse (mini-substasies) skoon te skraap van allerhande ongewensde advertensies.

Desirée van der Walt, DA koukus-leier in Limpopo, het aan Die Pos gesê verskeie deurlopende skoonmaak-aksies word in Wyk 12 beplan.

“Ons mikpunt is om van Wyk 12 ’n spogbuurt te maak deur slaggate te herstel, vullis te verwyder, mangate wat sonder deksels is te herstel en meer. Ons het onlangs verf aan die plaaslike munisipaliteit voorsien sodat padtekens en spoedwalle geverf kan word,” het sy gesê.

Intussen hou inwoners asem op dat die munisipaliteit se dienslewering binnekort verbeter.

Related Articles

Back to top button