MunicipalNews

Taxi-vereniging dwing munisipaliteit tot stilstand

Die Warmbad taxi-vereniging (WATA) het op Maandag 27 Junie die hoofstraat voor die Bela-Bela-munisipaliteit met hul voertuie versper om hul ongelukkigheid oor die bestaande taxi-geriewe in die dorp te opper.

Volgens taxi-bestuurders heers daar ongelukkigheid oor die taxi-staanplek op die hoek van Potgieteren Ritchieweg wat teenaan die Bosveld-inkopiesentrum grens.

Die grond behoort aan Forever Resorts wat jare gelede as ’n vergunning toestemming aan die munisipaliteit gegee het vir die oprigting van die taxi-staanplek.

Volgens die WATA-bestuur betaal die vereniging maandelikse fooie aan Forever Resorts vir die gebruik van die grond en geriewe.

Die bestuur was verstom toe hulle Maandag nie basiese dienste (water en sanitasie) gehad het nie. By navraag is glo aan hulle gesê dat hul betalings moontlik agterstallig is, maar dit kon nie bevestig word nie.

Die feit dat daar geen geriewe is nie, het groot ongerief veroorsaak. Van die pendelaars ry ver en klim daar by dié oplaaipunt oor na ander minibusse. Honderde plaaslike wer-
kers maak daagliks van dié geriewe gebruik.

Die WATA-bestuur het aan Die Pos gesê hulle het tot nou hul verpligtinge nagekom, maar in die lig van die knypende ekonomie word dit al hoe moeiliker om die syfers te laat klop.

Van die taxi-bestuurders wat voor die munisipaliteit saamgedrom het, het aan Die Pos gesê hul voertuie is gefinansier en hulle sukkel om premies te bekostig. Die verhoging in rentekoerse het ’n direkte invloed op hul voertuigpremies. Die buitensporige hoë brandstofpryse is besig om die industrie te kniehalter, het hulle gesê.

Die bestuur het gesê die munisipaliteit het by herhaling beloftes gemaak om die geriewe te verbeter of elders grond beskikbaar te stel. Hulle het egter nie by hul woord gehou nie en geen hulp is tot dusver van hulle ontvang nie.

Die vereniging het van die munisipale bestuur geëis dat die munisipaliteit die taxi-staanplek subsidieer om verligting te bring vir die noodsaaklike vervoer-industrie.
Peter Moloto, hoof van kommunikasie by die munisipaliteit, het by navraag gesê ’n vergadering is met Forever Resorts se bestuur belê oor die situasie. Die uitkoms van die vergadering was teen druktyd nie bekend nie.

Die vereniging het gedreig om pendelaars reg voor die munisipale gebou op- en af te laai indien die munisipaliteit nie ag slaan op hul pleidooie nie.

Related Articles

Back to top button