MunicipalNews

Suksesvolle registrasienaweek in Modimolle se Wyk 12

Die tussenverkiesing in Wyk 12 van Modimolle wat op Woensdag 3 Augustus plaasvind, is voorafgegaan deur ’n registrasienaweek op Saterdag 18 Junie en Sondag 19 Junie vir inwoners wat in die betrokke wyk woon.

Die twee stemlokale — een by die Kokanje-aftreeoord net buite Modimolle en die ander een by die Susan Strijdomskool in Kerkstraat — was heel besig met inwoners wat kom seker maak het hul gegewens verskyn korrek op die kiesersrol.

Volgens Malone Nkoana, hoof van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se Modimolle-kantoor, het die meeste inwoners by die stemlokale opgedaag om hul adresse na te gaan sodat hul beslis in Wyk 12 hul kruisie kan trek. Nkoana het gesê kiesers klop ook gereeld by die OVK se kantoor aan om hul gegewens na te gaan.

By die Susan Strijdom-stemlokaal was daar altesame 145 inwoners wat deur die loop van die naweek opgedaag het. Slegs 22 was nuwe kiesers. Daarteenoor was daar 51 inwoners by die stemlokaal in Kokanje waarvan slegs twee kiesers nuwe registrasies was. Geen toerusting of stelselprobleme is aangemeld nie.

Kiesers word daaraan herinner dat Vrydag 24 Junie die laaste dag is waarop inwoners kan registreer of regstellings aan hul gegewens kan maak.

Die volgende opsies kan gevolg word om seker te maak dat inwoners wel in Wyk 12 geregistreer is:

  • Stuur ’n SMS met jou identiteitsnommer na tel.32810 waarop die OVK per SMS sal bevestig in watter wyk jy geregistreer is (SMS kos R1).
  • Skakel die OVK-kantoor in Modimolle gedurende kantoorure by tel. (014) 718 4037/ 4039.
  • Aanlynregistrasies kan gedoen word by www.registertovote.elections.org.za(.)

Terwyl die DA en VF-Plus se kandidate reeds aangekondig is, het die ANC en EFF nog nie hul verkose kandidate vir Wyk 12 se tussenverkiesing bekend gemaak nie.

Related Articles

Back to top button