MunicipalNews

Geen einde in sig vir Modi-rioolprobleme

Inwoners van Modimolle is heeltemal radeloos oor die plaaslike owerheid se klaarblyklike onvermoë om die dorp se voortslepende rioolprobleme op te los.

Die Pos het in ’n vorige uitgawe (Vrydag 10 Junie) berig oor die hoëdrukwaterpomp-voertuig wat die munisipaliteit in Mei vir bykans drie weke gehuur het om die
dringendste rioolprobleme in die dorpe wat onder die munisipaliteit val, te probeer oplos.

Die hoëdrukwaterpomp en die plaaslike munisipaliteit se sanitasiespanne het tydelike verligting gebring deur blokkasies in die rioolnetwerk te verwyder, maar die verligting was van korte duur omdat sekere mangate, veral dié wat al langs die rivierbedding en parallel met Limpopostraat geleë is, na bewering nooit met die hoëdrukwaterpomp oopgespuit is nie.

Die Pos het met inwoners van die Jasnia-kompleks in Joe Slovostraat, waar dit aansluit by die nuwe brug wat tans in Limpopostraat gebou word, gepraat oor hul jare-
lange stryd met die plaaslike owerheid om die rioolprobleme op te los.

Lizelle Fourie, Elize Gouws, Willie Pretorius, Thinus en Krappie Botes het aan Die Pos vertel dat die mangat op die kompleks se sypaadjie (in Joe Slovostraat), asook die mangat etlike meter daarvan af, net binne die kompleks se palissadeheining, nou al die afgelope vier jaar gereeld oorloop.

“Sodra die hoofmangat in die kompleks begin oorloop, weet ons dat dit binne ’n dag of twee gaan terugstoot tot by die dreine langs ons wooneenhede waar die rioolgemors dan tot in ons huise loop,” het hulle gesê. Dis ook presies wat die afgelope week weer gebeur het.

Die inwoners vertel dat hulle sedert Vrydag 10 Junie daagliks die rioolprobleem by die munisipaliteit aangemeld het, maar dat die sanitasiespan eers ’n week later — op Vrydag 17 Junie — opgedaag het om al die mangate in die kompleks oop te maak. “Ongelukkig kon die blokkasies in die mangat op die sypaadjie (in Joe Slovostraat) nie verwyder word nie. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die riool weer tot by ons huise opstoot,” het hulle gesê. Daar is nog ’n mangat in die rivierbedding, net voor die brug in Joe Slovostraat, wat ook voortdurend oorloop.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong munisipaliteit, het Christopher Mahlaule, direkteur van tegniese dienste, onlangs met die eienaar van ’n nabygeleë sakeonderneming gaan praat om die oorsprong van die talle blokkasies op sy perseel aan te spreek. Tot op hede is daar nog nie ’n oplossing bekend gemaak nie.

Die Pos het vroeër berig oor die pyplyne wat vervang moet word met pype van ’n groter deursnee, asook die talle mangate wat herstel of herbou moet word sodat daar nie soveel grond in die pype spoel wanneer dit reën nie. Daarmee saam beland vreemde voorwerpe soos diervet, klippe, bourommel, weggooidoeke en kledingstukke in die af-
voerstelsel wat ook lei tot blokkasies.

Van Staden het ook verduidelik dat die munisipaliteit in die vorige boekjaar reeds by die Limpopo departement van water en sanitasie aansoek gedoen het om finansiële hulp sodat die rioolnetwerk opgegradeer kan word. Die provinsiale departement het na bewering glo agt maande gesloer om die dokumentasie vir goedkeuring te voltooi. Volgens die munisipaliteit sal daar eers weer in die nuwe boekjaar (vanaf Julie 2022) aandag geskenk kan word aan hierdie projekte.

Die meeste van hierdie rioolprobleme kom voor in die laerliggende gedeelte van die dorp wat beteken dat die rou riool tot in die Klein-Nylrivier stroom en uiteindelik in die Nylsvley-bewaringsgebied beland.

Inwoners is van mening dat die ganse rioolnetwerk in die laagliggende gebied van Modimolle besig is om in duie te stort terwyl die plaaslike owerheid versuim om daadwerklike oplossings te vind.

Related Articles

Back to top button