AdvertorialNewsSponsored

Skud die vere reg vir gewilde buite-ekspo

Die kykNET Buite-ekspo — wat twee jaar lank weens die Covid-19-pandemie in die slag gebly het — vind die naweek van 24- 26 Junie by die Sondela-natuurreservaat en Spa net buite Bela-Bela plaas.

Die Sondela-natuurreservaat is slegs sowat 80 km van Pretoria en is reg langs die N1-snelweg geleë. Die terrein is ideaal vir die buitelug- en natuurliefhebber en is geskik vir al die aktiwiteite wat die buite-ekspo aanbied.

Sowat 22 000 besoekers het in Maart vanjaar die kykNet Buite-ekspo in die Wes-Kaap bygewoon wat die grootste buitelewe ekspo van sy soort in Suid-Afrika was.

Die geleentheid in Bela-Bela is ook gemik op die buitelewe-, kampering- en 4×4-geesdriftiges. Die hele gesin is welkom. Dit is ’n volwaardige buitelewe leefstyl-ekspo en bied ook baie opwindende aktiwiteite aan om die hele gesin besig te hou. Die Hankook 4×4 Extreme-kompetisies (waar die publiek ook mag deelneem), André de Villiers van Safari 4×4 Roetes op kykNET se Amarok-ritte, Action Ford Modimolle se Ranger Raptor-ervarings en helikopterritte wag op besoekers.

Op die Vrydagaand word die GT Camper Draai en Swaai-lawaai met Charné Grabie vir die eerste keer gehou. Daar tree ook puik kunstenaars op waaronder Soné Joubert (’n boorling van die Waterberg), die groep Adam, Irene-Louise van Wyk, Pieter Smith, Dewald Dippenaar, Juba en Riaan Grobler. Grobler sal ook namens Hankook Tyres die seremoniemeester wees vir die res van die naweek se verrigtinge.

Die kykNET-span van sepiesterre van Binnelanders- en Getroud met Rugby-faam sal aan ’n baie spesiale braaikompetisie deelneem wat deur Jimmy’s Steakhouse Sauces aangebied word. Die doel van die kompetisie is om te bepaal watter sepie die septer swaai as braaikoning. Die publiek het die geleentheid om met die bekende televisiepersoonlikhede skouers te skuur en ook deel te neem aan die pret.

Die kinders sal die groot pretpark baie geniet. Jakkie Louw, bekende sanger, sal die kleinspan met sy gewilde Felias-en-Pokkel-vertoning vermaak, terwyl die ouers met gemoedsrus in die Van Loveren-wynlandgoed se wyn-en kuiertuin kan ontspan. Kameelritte sal ook beskikbaar wees en die waaghalse sal ’n rit in die Hankook Big Mama-monstertrok geniet. Die immergewilde helikopterritte is ook vanjaar weer beskikbaar en beloof om skouspelagtig te wees, want die Waterberg het baie reën gekry en is lowergroen.

Streng Covid-19-protokol, soos voorgeskryf deur die regering, sal toegepas word. Besoekers wat nie bewys van inenting- of ’n negatiewe Covid-19- toets (nie ouer as 72 uur) kan toon nie, kan teen slegs R150 op die terrein ’n Rapid Antigen-toets ondergaan. Kinders onder 12 is vrygestel hiervan.

Besoek gerus www.ekspo.co.za vir meer inligting en om dagbesoekerskaartjies te koop deur Ticket Master (ook beskikbaar by die hekke).

Navrae kan gerig word aan Tersia by accounts@ekspo.co.za of bel haar direk by tel. 072 487 0000.

Related Articles

Back to top button