MunicipalNews

Dit is hoe begroting Bela-Bela-inwoners se sakke sal raak

Bela-Bela-inwoners moet vanaf Vrydag 1 Julie meer vir munisipale dienste opdok.

Die finale munisipale begroting vir Bela-Bela is op Dinsdag 31 Mei tydens ’n spesiale raadsvergadering goedgekeur. Openbare deelnameprosesse het in die maande vooraf plaasgevind.

Sekere heffings is aangepas en ander het onveranderd gebly.

  • Die munisipaliteit beplan om in die komende boekjaar R483 739 000 miljoen aan uitgawes te bestee. Dit sluit in geld vir instandhouding (moontlik 10% van die begroting).
  • Die totale operasionele begroting word op R505 848 000 miljoen geraam.
  • Hierdie bedrag sluit verder ’n begrote bedrag van R166 174  000 in vir munisipale salarisse. Dit is ’n verhoging van
    R14 226 000 teenoor die vorige boekjaar.
  • Raadslede se salarisrekening styg van R7 737 000 na R8 047 000.
  • Die munisipaliteit hoop om ’n surplusbedrag van R22 108 000 in die nuwe boekjaar te behaal.
  • Eiendomsbelasting styg met 3,9%.
  • Vullisverwydering en sanitasie-heffings styg met 4,8%.
  • Die koste van waterverbruik styg met 11,51%.
  • Kragheffings styg met 7,47% vir munisipale verbruikers. Eskom-verbruikers se kragrekening het reeds in April met 17,9% gestyg.
  • Alle woon-eiendomme ontvang R50 000-vrywaring op belasting.
  • Kommersiële landbouers ontvang 55% vergunning op hul grondbelasting.
  • Hulpbehoewendes betaal geen belasting op hul eiendom nie. Hulle ontvang maandeliks 50 kwh krag en 6 kl water gratis. Pensioentrekkers en gestremde inwoners ontvang ’n bykomende 30% afslag op hul grondbelasting.
  • ’n Regeringstoelaag van R90 684 000 is begroot om munisipale infrastruktuur te verbeter.
    Geen geld is begroot om die huidige kragnetwerk op te gradeer nie. ’n Regeringstoelaag van R6,5 miljoen is begroot vir nuwe krag-infrastruktuur.
    Verder is ’n bedrag van R15 miljoen begroot om watertoevoer-infrastruktuur te verbeter.
    ’n Regeringstoelaag van R28 704 000 is begroot vir sanitasie-infrastruktuur en ’n bedrag van R14 354 000 is begroot om die stortingsterrein te verbeter.
  • Altesame 10 projekte — die opgradering van paaie, sportgeriewe, die munisipale stortingsterrein, stormwaterstelsels en begraafplase — word na die nuwe termyn in 2023 oorgedra om voltooi te word.
  • Die enigste begrote projekte in Wyk 1 sluit in die opgradering van die rioolstelsel by Forever Resorts, die vervanging van grootmaat-watermeters, asook beskadigde komponente, en die opgradering van die munisipale rioolaanleg. Die koop van kragopwekkers vir die distrik se wateraanlegte is ook voor begroot.
  • Daar is nie begroot vir die voltooiing van die 132/11kva kragsubstasie op die Settlers-pad nie. Samesprekings vind reeds tussen die munisipaliteit en die departement van minerale hulpbronne en energie plaas om die substasie te voltooi. Daar is vir die 2022-2023 boekjaar R5,5 miljoen vir die projek begroot.
  • Daar is slegs R1 miljoen begroot vir kragvoorsiening wat op huishoudings in die Bela-Bela-township se Uitbreiding 9, Koppewaai en Uitbreiding 5 (1371 huishoudings) van toepassing is.
  • Die munisipaliteit het vir die nuwe boekjaar begroot om R700 000 op skootrekenaars, rekenaars en telefone te bestee.
  • R200 000 is bewillig vir internetdienste en R25 000 vir ’n industriële stofsuier. Die bedrag wat begroot is vir rekenaardrukkers beloop R200 000.

Related Articles

Back to top button