MunicipalNews

Dis Mariska vs Wiets in tussenverkiesing

Skaars nege maande ná die munisipale verkiesing van 1 November 2021 moet inwoners van Modimolle weer hul kruisie op Woensdag 3 Augustus gaan trek nadat Sarna Groenewald, raadslid van Wyk 12, bedank het. 

Mariska Greyling is die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) se kandidaat in die tussenverkiesing van Wyk 12 in Modimolle.

Teen druktyd vandeesweek was daar reeds twee verkose kandidate, naamlik Wiets Botes (Demokratiese Alliansie) en  Mariska Greyling (Vryheidsfront-Plus) wat in Wyk 12 gaan staan. Die ANC en EFF se verkose kandidate is nog nie bekendgemaak nie.

Die Pos het met die twee kandidate gesels oor hul bereidwilligheid om in diens van die gemeenskap te staan.

Botes, ’n jarelange sakeman en inwoner van Modimolle, het vanaf 1999 tot 2016 as raadslid in die Modimolle-munisipaliteit gedien voor die samesmelting met Mookgophong. Botes was ook vir meer as vyf jaar die voorsitter van die Waterberg-sakekamer. Dit is hierdie ondervinding wat hy nou wil inspan om die inwoners van Wyk 12 by te staan en te verseker dat munisipale amptenare en topbestuur verantwoordbaar gehou word.

Wiets Botes is die Demokratiese Alliansie (DA) se kandidaat in Wyk 12 se tussenverkiesing.

Botes het aan Die Pos gesê:

“Dienslewering is my topprioriteit en ek is reeds in gesprek met die onderskeie afdelingshoofde van onder meer elektriese dienste (talle straatligte is buite werking), water en sanitasie, paaie (slaggate) en maatskaplike dienste (vullisverwydering).”

Botes het onlangs gehelp met die koop van benodigdhede om talle gebarste waterpype in Wyk 12 te herstel. Volgens Botes gaan hy binnekort, met behulp van privaat donateurs, die enorme slaggate in Boshoff- en Maroelastraat herstel. Hy het sy eie voertuie beskikbaar gestel vir die verwydering van huishoudelike vullis met talle sakepersone en inwoners wat ook reeds ingestem het om te help omdat die owerheid se vullistrokke alweer buite werking is.

“Dit is nou nodig om self in te spring om tydelike verligting te bring vir diensleweringsprobleme, maar op die langtermyn is dit nie volhoubaar nie. Ons almal betaal eiendomsbelasting én ons betaal vir dienste wat die munisipaliteit veronderstel is om te lewer. Dit is my doelwit om te sorg dat ons daardie dienste ontvang.”

Die Vryheidsfront-Plus het hul verkose kandidaat, Mariska Greyling, op Donderdag 9 Junie aangewys. Greyling, ’n boorling van die Waterberg, woon sedert haar huwelik met Jan Greyling in 2018, op hul plaas net buite Modimolle. Sy staan nie terug vir harde werk nie en beskryf haarself as ’n gemeenskapsaktivis. Sy is deurgaans betrokke by opheffingsprojekte in die gemeenskap, plaasveiligheid en vroue-organisasies. Sy het aan Die Pos gesê verskeie inwoners van Wyk 12 het haar genader om haarself as kandidaat beskikbaar te stel omdat hulle behoefte het aan ’n raadslid wat basiese dienslewering as hoogste prioriteit stel.

“Ek sien geen sin daarin om tyd te mors met politieke bekgevegte en vuilspel nie. Ek wil ’n daadwerklike verskil maak en toesien dat die inwoners van Wyk 12 water en doeltreffende sanitasie het, dat paaie begaanbaar is en dat vullis verwyder word. Ek staan in diens van die gemeenskap en sal altyd die ekstra myl loop om te help waar ek kan,” het sy gesê.

Die Pos het met Malone Nkoana, hoof van die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) se kantoor in Modimolle, gesels oor die komende registrasie-naweek van 18 tot 19 Junie. Kiesers kan vanaf 08:00 tot 17:00 by die onderskeie stemlokale by die Susan Strijdom Spesiale Skool in Kerkstraat, asook by die Kokanje-aftreeoord net buite Modimolle, gaan registreer. Volgens Nkoana is daar tans 3 572 stemgeregtigde kiesers in Wyk 12.

Inwoners word tydens die registrasieproses met behulp van ’n elektroniese toestel, wat lyk soos ’n rekenaartablet, bygestaan om hul woonadresse in te voer. Kiesers moet seker maak dat hul selfoonnommers korrek is sodat die OVK per SMS kan bevestig dat die registrasie of verandering van adres suksesvol was.

Sommige kiesers het gewonder hoe die OVK gaan verseker dat slegs kiesers wat tans in Wyk 12 woon hul kruisie gaan trek? Hierop het Nkoana verduidelik dat die Kieswet (wet 73 seksie 97 van 1998) die onus op elke stemgeregtigde kieser plaas om die korrekte adres aan die OVK te verskaf. Indien ’n kieser dus opsetlik die verkeerde adres gebruik om die verkiesingsuitslag te beïnvloed, kan hy of sy krimineel vervolg en ’n boete of tronkstraf van tot 10 jaar opgelê word. Nkoana het ook gesê indien enige OVK-beampte onraad vermoed tydens die registrasieproses, hulle die betrokke kieser kan ondervra om seker te maak dat hulle wel in die betrokke wyk woon.

Die OVK maak ook onderskeid tussen inwoners wat byvoorbeeld meer as een woning het en dalk net oor naweke in hul huis in Modimolle woon. Hierdie kiesers is nie geregtig om te stem nie omdat hulle nie die oorgrote meerderheid van hul tyd in Modimolle (Wyk 12) woon nie.

Inwoners word aangemoedig om seker te maak dat hul wel in Wyk 12 geregistreer is deur gebruik te maak van die volgende opsies:

  • Stuur ’n SMS met jou identiteitsnommer na tel. 32810 waarop die OVK per SMS sal bevestig in watter wyk jy geregistreer is volgens die kiesersrol (dit kos R1 per SMS).
  • Stuur ’n WhatsApp na tel. 0600 88 00 00 met slegs die woord “Hi” waarop ’n boodskap met verskillende navrae opsies gestuur word (slegs vir slimfone).
  • Aanlynregistrasies kan gedoen word by www.registertovote.elections.org.za(.)
  • Gaan na die stemlokaal tydens die registrasienaweek en onthou om jou identiteitsdokument saam te neem.
  • Besoek die OVK-kantoor in Modimolle gedurende kantoorure (08:00 tot 16:30) van Maandae tot Vrydae.
  • Skakel die OVK-kantoor in Modimolle by tel. (014) 718 4037/4039 vir enige navrae.

Let wel dat kiesers net kans het tot Vrydag 24 Junie om te registreer voordat die kiesersrol sluit.

Nadat die kiesersrol gesluit het, gee die OVK ’n afskrif daarvan aan die provinsiale leiers van elke politieke party sodat hulle dit kan nagaan vir enige moontlike ongerymdhede.

Die onderskeie politieke partye is druk besig om geskikte kandidate te kies om die partye te verteenwoordig in die tussenverkiesing.

Related Articles

Back to top button