MunicipalNews

Munisipaliteit gee aandag aan rioolprobleme

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het ’n hoёdruk waterpompvoertuig gehuur om tydelike verligting te bring vir die voortslepende rioolprobleme in veral Modimolle en Mookgophong.

Inwoners van dié twee dorpe is al radeloos omdat hulle herhaaldelike klagtes by die owerheid blykbaar op dowe ore val. Inwoners sê dit is asof die plaaslike owerheid nie verantwoordelikheid wil neem vir die rioolgemors nie terwyl huiseienaars maandeliks hul munisipale rekenings moet betaal. Talle inwoners het nou al slote gegrawe vanaf die punt waar die riool oorloop by hul huise tot in die straat sodat die riool nie binne-in hul erwe opdam nie.

Die Pos het in Februarie vanjaar berig oor huise aan die onderpunt van Paul Krugerstraat waar rou riool op Saterdag 29 Januarie en Sondag 30 Januarie tot in die huise geloop het. Talle ander berigte vertel van dieselfde rioolprobleme in laerliggende dele van Modimolle soos in Joe Slovostraat by die Jasnia-kompleks, Van Riebeeck-, Limpopo- en Lilian Ngoyistraat.

Die munisipaliteit het middel Mei ’n ooreenkoms met ’n diensverskaffer van Pretoria aangegaan om ’n hoёdrukwaterpomp te huur vir minstens drie weke om die dringendste rioolprobleme in die dorpe te probeer oplos.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het saam met Thabang Selemela, afdelingshoof van water en sanitasie, op Woensdag 18 Mei talle strate in Modimolle besoek met rioolprobleme of lekkende waterpype.

Die gehuurde voertuig was saam met die munisipaliteit se span besig om die geblokte rioolpyplyn in Paul Krugerstraat oop te spuit. Die rioolprobleem op die hoek van Kerk- en Joubertstraat is die vorige dag (17 Mei) reeds suksesvol opgelos.

Die span het ook die blokkasies in die rioolpyplyn in Joe Slovostraat, vanaf die Jasnia-kompleks verby Humba Sand en Klip tot bo by Lekkerbreek Primary School op Maandag 30 Mei verwyder. Die volgende dag (31 Mei) is die blokkasie in die hoofpyplyn in Jay Naidoostraat in Phagameng verwyder, asook ander blokkasies in die omgewing waaronder by die FH Odendaal-hospitaal, asook by Tempie Teëls.

Die munisipaliteit hou vol dat die afgelope seisoen se swaar reën die probleem vererger het omdat soveel grond en vullis in die stormwaterafvoerpype spoel wat blokkasies in die rioolpype veroorsaak of vererger. Nie net moet groot gedeeltes van die pyplyne vervang word met pype met ’n groter deursnee nie, maar die meeste van die mangate moet ook herstel word sodat daar nie soveel grond in die pype inspoel wanneer dit reёn nie.

Volgens ’n munisipale mediaverklaring wat op Sondag 22 Mei uitgereik is, het die rioolspanne heelwat ongewensde voorwerpe soos klippe, babadoeke, sanitere produkte, klere, olie en vet en selfs tuinvullis in die rioolnetwerk gevind wat blokkasies veroorsaak. Inwoners moet ook let dat stormwaterafvoerpype nie aan die munisipaliteit se rioolnetwerk mag koppel nie.

Volgens Van Staden het die munisipaliteit in die vorige boekjaar reeds aansoek by die Limpopo-departement van water en sanitasie om finansiële hulp gedoen sodat die rioolnetwerk opgegradeer kan word. Die provinsiale departement het na bewering glo agt maande gesloer om die dokumentasie vir goedkeuring te voltooi wat tot gevolg het dat daar eers weer in die nuwe boekjaar (Julie 2022) aandag geskenk kan word aan hierdie projekte.

  • Die bugerregteorganisasie, AfriForum, het die rioolsuiweringsaanleg in Modimolle op 8 September 2021 besoek nadat hul ’n adviesooreenkoms met die plaaslike munisipaliteit gesluit het. Die ooreenkoms bepaal onder meer dat AfriForum die munisipaliteit sal bystaan met advies oor water- en sanitasiedienste, asook toegang tot die aanleg sal verkry. Volgens James van Zyl, AfriForum-takvoorsitter in Modimolle, is die aanleg in ’n haglike toestand en sal hul span deskundiges eersdaags ’n volledige oudit doen sodat kort-, medium- en langtermyn aanbevelings gemaak kan word. Daarmee saam moet die aanleg met oorleg bestuur en onderhou word. Van Staden het destyds gesê AfriForum se advies en bystand word verwelkom.

Die spesifieke datum waarop hierdie samewerkingsooreenkoms in werking sal tree is nog nie bevestig nie.

Related Articles

Back to top button