MunicipalNews

Inwoners is siek en sat vir swak dienslewering

Vuisvoos inwoners het op Vrydag 3 Junie ’n optog na die Bela-Bela-munisipaliteit gehou om beswaar te maak teen die jarelange gebrekkige dienslewering in die dorp.

Inwoners van Noodhulp en Roodepoort is veral ontevrede oor voortslepende kragprobleme in dié omgewing.

Meer as 1 200 inwoners het in die dae vooraf ’n petisie onderteken wat die munisipaliteit daarop wys dat hulle ’n mandaat het om volgehoue dienslewering te verskaf.

Desirée van der Walt, parlementslid en die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof, het die optog gereël in die afwesigheid van Tinus Ras, DA-raadslid van wyk 1, wat tans op siekverlof is.

Die betogers het op ’n vreedsame wyse na die munisipaliteit gestap waar hulle voor dooiemansdeur te staan gekom het. Die burgemeester en munisipale bestuurder — wat sewe dae vooraf kennis van die optog ontvang het — was nie daar om inwoners te ontmoet nie.

“Die munisipaliteit moet begin besef dat die gemeenskap nou saamstaan. Ons is dankbaar teenoor die politieke partye wat ons bystaan, maar hierdie is nie ’n politieke saak nie. Ons het verskillende politieke sienings, maar ons almal stem saam dat munisipale dienslewering uiters swak is,” het Rudie Lubbe, sake-eienaar, tydens die betoging gesê.

“As die munisipaliteit nie wil luister na vreedsame klagtes nie, moet hulle nie huil wanneer sake hand-uit ruk in die gemeenskap nie.”

Sien ook video:

Van der Walt het gesê alle reëlings is vooraf met die owerhede getref. Die munisipaliteit het volgens haar verskonings gemaak deur te beweer alle die stappe is nie gevolg om te betoog nie en daarom hoef hulle nie ag daarop te slaan of die memorandum met eise te ontvang nie.

Sy het gesê die memorandum sal nou via die speaker se kantoor as ’n item vir bespreking aan die munisipale raad ingedien word. Dit gee die munisipaliteit 14 dae tyd om teen Vrydag 17 Junie op die eise te reageer.

Sy het voorts gesê dieselfde memorandum sal by die parlement ingedien word.

Die kwessies wat op die memorandum aangeteken is, sluit in:

  • Aanhoudende kragonderbrekings en gebrekkige skedules ná beurtkrag;
  • Geen instandhouding van die kragnetwerk;
  • Gebrek aan suiwer drinkwater;
  • Slaggate en straatligte wat nie herstel word nie;
  • Ernstige rioolprobleme wat nie herstel word nie;
  • Gebrek aan doeltreffende vullisverwydering by verskeie punte in die dorp;
  • Swak dienslewering by munisipale kantore;
  • Munisipale noodnommers wat gereeld buite werking is;
  • Rondlopervee wat nie geskut word nie;
  • Parke, openbare ruimtes en strate wat nie in stand gehou word nie;
  • Gebrek aan munisipale klinieke;
  • Munisipale heffings en eiendomsbelasting wat buitensporig is en selfs hoër is as noordelike voorstede in Johannesburg.

Inwoners eis ook om te weet wie die waardeerder van die nuwe waardasierol was en dat die munisipaliteit ’n skedule bekendmaak van wanneer herstelwerk gedoen word. Hulle dring ook aan op ’n tegniese oudit op die bestaande kraginsfrastruktuur.

Verder word ’n organogram van amptenare van alle afdelings van die munisipaliteit versoek.

Related Articles

Back to top button