MunicipalNews

Sit dit af! sê getroue belastingbetalers

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het reeds in Maart vanjaar begin om daadwerklike stappe teen wanbetalers te neem om die groeiende uitstaande skuldlas vir dienste en heffings in te vorder.

Die owerheid het op Donderdag 19 Mei weer ’n kennisgewing op digitale platforms uitgereik waarin inwoners gewaarsku word dat wanbetalers se kragtoevoer afgesny sal word. In die skrywe word inwoners versoek om so gou moontlik betalingsreëlings te tref indien hul groot bedrae verskuldig is.

Luidens die munisipale verslag wat einde Maart aan die raad voorgelê is, staan die plaaslike owerheid se totale krediteure op R937 miljoen. Hierby ingesluit is die sogenaamde historiese Eskom-skuld wat tans R510 miljoen is. Dit is sedert die kragkrisis in 2018 aan Eskom verskuldig. Die uitstaande balans van die munisipaliteit se Eskom-rekening was einde Maart sowat R156 miljoen.

Dan is daar ook ’n bedrag van R37 miljoen verskuldig aan Magalies Water, asook R233 miljoen aan ander diensverskaffers.

Die totale debiteure (gelde wat aan die munisipaliteit verskuldig is) het teen einde Maart op ’n skrikwekkende R863 miljoen gestaan. Hierdie bedrag is saamgestel uit staatsinstansies (waaronder skole) wat altesame R48 miljoen skuld, sakeondernemings wat R123 miljoen skuld en huishoudings wat ’n astronomiese R638 miljoen skuld. Die grootste bedrae van die uitstaande skuld is vir water- en eiendomsbelasting, asook opgehoopte rente op rekenings wat al baie lank uitstaande is. Wat die jarelange uitstaande skuld van sekere huishoudings betref, is heelwat daarvan vermoedelik oninvorderbaar en sal dit gevolglik afgeskryf moet word.

Die departement van landelike ontwikkeling skuld die plaaslike owerheid volgens alle aanduidings meer as R10 miljoen. Daar is ook talle skole wat groot bedrae aan die munisipaliteit verskuldig is vir dienste en elektrisiteit.

Die Pos het van ’n betroubare bron verneem dat sekere raadslede ook uitstaande skuld op hul munisipale rekeninge het — sommige tot soveel as R51 934. Die totale uitstaande bedrag vir raadslede staan tans op R312 057 waarvan R221 085 al meer as ’n jaar uitstaande is.

Ingevolge munisipale regulasies se gedragskode vir munisipale amptenare mag amptenare nie uitstaande bedrae vir langer as drie maande (90 dae) op hul munisipale rekenings vir dienste en heffings skuld nie. Daarna is die munisipaliteit by magte om die uitstaande bedrag van die betrokke amptenaar se salaris te verhaal.

Volgens die verslag wat in Maart aan die raad voorgelê is, het die owerheid alle amptenare met uitstaande skuld in kennis daarvan gestel dat die bedrae van hul salaris verhaal sal word indien hulle nie betyds afbetalingsreëlings tref nie.

Talle sakedebiteure is per brief in kennis gestel daarvan dat hul dienste opgeskort sal word indien hulle nie hul rekenings vereffen nie. Die munisipaliteit sal ook sekere vooraf betaalde rekenings, met groot bedrae uitstaande skuld vir dienste, heffings en grondbelasting, blok.

Gerhardt Breytenbach, prokureur en voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het in antwoord op die munisipaliteit se algemene kennisgewing dat die krag van agterstallige rekeninghouers afgesny sal word, gesê:

“Die sakekamer ondersteun enige redelike stappe om munisipale heffings in te vorder en inwoners en sakeondernemings word aangemoedig om hul rekeninge te betaal. Rekeninghouers en die munisipaliteit moet egter ook kennis neem daarvan dat die sodanige afsnyproses billik moet geskied. In dié verband het die konstitusionele hof reeds in 2009 beslis dat dié proses met ’n behoorlike voorafkennisgewing van minstens 14 dae aan die gebruiker moet geskied. Die betrokke kennisgewing moet ook aan spesifieke vereistes voldoen.

Die Nylstroom-rolbalklub het Die Pos in kennis gestel daarvan dat die klubhuis se elektrisiteit op Donderdag 19 Mei omstreeks 13:00 afgesny is — sonder enige vooraf kennisgewing. Louise Potgieter, voorsitter van die klub, het vertel dat sy die volgende oggend om 08:00 by die munisipaliteit se rekeningafdeling in Modimolle aangeklop het met die vorige maand se rekening wat wys dat dié klub geen uitstaande skuld het nie.

“Nadat ek langer as ’n uur gewag het, het Joseph Molomo van die rekeningafdeling my te woord gestaan en aanvanklik gesê dat daar nie fout is met die rekening nie. Groot was my verbasing toe ek meegedeel is dat die klub R1 000 moet betaal vir die her-aansluiting van die krag.”

Volgens Potgieter is die bedrag dadelik aan die munisipaliteit oorbetaal en die nodige bewys per e-pos gestuur.

Potgieter vervolg:

“Ek het deur die loop van Vrydag talle oproepe na die munisipaliteit gemaak en is meegedeel dat hulle wag vir iemand se goedkeuring voordat ons krag weer aangesluit kan word. Ek het probeer verduidelik dat die ys- en vrieskas vol bederfbare produkte is en dat ons krag foutiewelik afgesny is deur die munisipaliteit maar dit was tevergeefs.” As laaste uitweg het Potgieter die burgemeester, Marlene van Staden, persoonlik om hulp gekontak. “Ons is opreg dankbaar vir die burgemeester wat uit haar pad gegaan het om ons te help sodat die krag uiteindelik teen omstreeks 17:30 op Saterdag 21 Mei weer aangesluit is.”

Van Staden het gesê die munisipaliteit gaan gebuk onder ’n enorme salarisrekening van gemiddeld R18 miljoen per maand. “Hoewel die munisipaliteit maandeliks bykans R45 miljoen se rekenings uitstuur, is die gemiddelde invorderings skaars R27 miljoen (slegs 60%) wat beteken nadat salarisse betaal is, is daar eenvoudig nie genoeg geld om die krediteure, waarvan Eskom, Magalies Water en EMS Lingani (kragvoorsiener) die belangrikste is, te betaal nie,” het sy gesê.

“Die munisipaliteit doen ’n beroep op inwoners en sakeondernemings om hul rekenings ten volle te vereffen of so gou moontlik reëlings te tref om die agterstallige bedrae af te betaal,” het sy gevra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button