MunicipalNews

Woorde vlieg toe hoë ANC-amptenare onverwags by DA-ontbyt opdaag

Beurtkrag, dienslewering, die swak toestand van munisipale infrastruktuur en die gebrek aan kundigheid van munisipale amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit het die afgelope week onder die soeklig gekom.

Inwoners se frustrasie met swak dienslewering het nuwe hoogtes bereik en inwoners dreig op sosiale mediagroepe om self in te gryp waar munisipale amptenare dit nie doen nie.

Die afgelope week se strawwe toepassing van beurtkrag het veral (weer eens) die inwoners van Roodepoort- en die Noodhulp-hoewes hard getref met kragtoevoer wat ure lank nog af was nadat beurtkrag opgeskort is.

Daar is die afgelope week bykans uurliks nuwe klagtes op die Bela-Bela-klagteforums aangemeld oor probleme met kraginfrastruktuur en toerusting.

Desirée van der Walt, die DA se Waterberg-kiesafdelingshoof en parlementslid, het ’n groep ontstoke inwoners op Maandag 23 Mei in Noodhulp ontmoet waar hulle hul griewe gelig het.

Sy het later die oggend by die Wimpy in die Bela Mall ander inwoners ontmoet om verdere diensleweringsprobleme aan te hoor.

Die groep inwoners wat saam met Van der Walt samesprekings gehou het, was behoorlik uit die veld geslaan toe Gloria Seleka, burgemeester, en Henriëtta Ledwaba, gewese hoofsweep van die munisipale raad, ook by die Wimpy opgedaag het vir ontbyt. Van der Walt het haar afspraak met inwoners by die Wimpy vooraf wyd geadverteer.

’n Vurige woordewisseling het tussen die twee groepe ontstaan en vrae en antwoorde oor sekere elektrisiteitsvoorsiening is heen-en-weer geopper. Die twee vroue het hewig wal gegooi en die skuld vir die dorp se probleme op verouderde infrastruktuur geplaas.

“Die tydige en ontydige onderbrekings wat ontstaan nadat elke sektor af- en weer aangeskakel word wanneer beurtkrag eindig, is een van die kwessies waarop ons dringend ’n antwoord wil hê,” het Van der Walt gesê.

“Daar word beweer dat inwoners van die dorp slegs die twee uur geskeduleerde beurtkrag kry, terwyl inwoners van byvoorbeeld Noodhulp en Roodepoort tot sewe uur lank sonder krag is. Die amptenare wat vir die aanskakeling verantwoordelik is, se kundigheid word in twyfel getrek en die rotasiebasis waarop krag herstel moet word, word nie toegepas nie. Dit bly hul mandaat om hierdie probleme reg te stel,” het Van der Walt gesê.

Inwoners het geëis dat die tegniese verslag wat volgens beleid kwartaalliks opgestel moet word vir hul insae beskikbaar moet wees.

Ledwaba het die skuld vir die vertraging op die munisipale uitvoerende komitee geplaas. Sy het beweer dat Tinus Ras, DA-raadslid wat saam met Seleka op die uitvoerende komitee dien, nog geen hond haar-af gemaak het met die herstel van infrastruktuur nie.

Seleka het op ’n vraag van Die Pos oor die onvoltooide kragsubstasie op die R516-pad buite die dorp gesê die munisipale bestuur voer samesprekings met die departement van minerale- en energiesake sodat dié departement die substasie sal befonds en voltooi.

Die substasie kan Bela-Bela se kragbehoeftes aanvul, maar volgens munisipale verslae is miljoene rande (meer as R40 miljoen) deur die betrokke kontrakteur sedert 2017 wanbestuur en kon hulle nie die werk voltooi nie.

Die kontrakteur is luidens verslae in 2020 in die pad gesteek.

Van der Walt het egter Seleka se belofte oor die befondsing van die substasie se voltooiing as vals hoop aan belastingbetalers beskryf.

Sy het met ontstoke inwoners ooreengekom om hul klagtes in die vorm van ’n petisie op te trek en ’n formele optog na die munisipaliteit te reël.

“Inwoners moet intussen deeglike rekord hou van klagtes en die aanmeld van onderbroke kragtoevoer. Dit sal hul eise teen die munisipaliteit versterk,” het sy gesê.

“Sy het gedreig om die saak verder te voer na die LUR, premier, parlement, Menseregtekommissie, openbare beskermer en ouditeur-generaal.

Die petisie is tans by die De La Rey’s-kroeg en restaurant in Noodhulp op die R516-pad na Thabazimbi beskikbaar. De La Rey’s is een van die sakeondernemings wat bykans daagliks onder kragprobleme gebuk gaan.

  • Ras is tans op siekverlof nadat hy ernstige gesondheidsprobleme ervaar het.

Alle navrae in verband met probleme in wyk 1 moet met Van der Walt of raadslede Johan Mills of Rika Kruger opgeneem word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button