MunicipalNews

Bela-Bela-straatligprojek aangepak, maar daar is nog nie lig in tonnel

Die Bela-Bela-munisipaliteit het ná baie druk van belastingbetalers toegegee en dit lyk asof die straatligte wat maande — en in sommige gevalle reeds jare — buite werking is, nou stelselmatig vervang word.

Meer as tweederdes van die dorpsgebied was jare lank saans sonder enige werkende straatligte.

Die gemeenskappolisiëringsforum (GPF), polisie en inwoners het op verskeie geleenthede gekla dat die donker strate hul veiligheid bedreig.

Die straatligprojek het luidens die tegniese verslag in April afgeskop nadat die raad ’n toelae van R3 miljoen van die regering ontvang het om die dorp met energievriendelike straatligte toe te rus.

Volgens die DA is altesame 680 straatligte vir die projek gekoop. Elke lig kos volgens berekening R4 411, wat volgens die DA buitensporig is vir dié soort ligte.

Die DA het ’n tweede kwotasie by ’n private diensverskaffer aangevra en kon dieselfde ligte teen slegs R400 per eenheid bekom. Die DA voer aan dat die raad se aankope ook nie die komponente insluit wat nodig is om die straatligte te aktiveer nie.

Tegniese spanne is baie bedrywig en elke straatligpaal word nagegaan, want in die meeste gevalle is die kragkabels of elektriese komponente gesteel.

Die DA het gewaarsku dat inwoners na afloop van die installering van die nuwe ligte dalk steeds nie werkende straatligte kan hê nie.

Raadslede van die DA het reeds amptelike navraag by die munisipale bestuur gedoen oor die beweerde buitensporige prys, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.

Peter Moloto, hoof van kommunikasie by die munisipaliteit, het by navraag aan Die Pos gesê hy wag ook op presiese inligting in verband met die aantygings wat die DA gemaak het.

Die munisipaliteit kon nie ’n aanduiding gee van watter wyke voorrang sal geniet met die installering van die nuwe straatligte nie.

Related Articles

Back to top button