MunicipalNews

Modimolle-posbusse onbepaald gesluit

Inwoners van Modimolle het kop gekrap toe hulle einde April posstukke wou afhaal, maar nie toegang tot hul posbusse kon kry nie.

Die gebou langs die poskantoor, wat bykans 1 200 posbusse bevat, is sonder waarskuwing op Donderdag 28 April met wit en rooi band afgesper. Daar is geen kennisgewings aangebring om inwoners in te lig oor die sluiting nie.

Die Pos het met die poskantoor se plaaslike takbestuurder, Isaac Kobe, gepraat oor die toestand van die gebou wat die posbusse huisves.

“Die swaar reën wat ons vanjaar gekry het, het baie skade aan die dak en plafon aangerig. Gevolglik is die plafon besig om mee te gee,” het hy gesê.

Volgens Kobe het amptenare van die departement van openbare werke sonder vooraf kennisgewing op Donderdag 28 April opgedaag om die gebou te ondersoek waarna dit met lint afgesper is. Werkers van die poskantoor is toegang tot die posbusse verbied, het hy gesê.

Verdere navrae is aan Johan Kruger, woordvoerder vir die poskantoor se hoofkantoor in Pretoria, gerig.

“Die Modimolle-poskantoor huur slegs die perseel en is volgens die huurooreenkoms verantwoordelik vir die instandhouding van die posbusgebou.”

Volgens Kruger moet die poskantoor nou die voorgeskrewe prosesse volg om kontrakteurs aan te stel om dié gebou te herstel. “Die proses om die plafon en dak te herstel behoort omtrent drie maande te neem,” het hy gesê.

“Verder word daar beoog om in die toekoms ’n pallisadeheining om die posbusse op te rig sodat slegs posbushuurders toegang daartoe het.”

Kruger het bevestig dat die posbusgebou gesluit is weens die veiligheidsgevaar wat dit vir die publiek inhou.

Intussen kan inwoners van Maandae tot Vrydae vanaf 08:00 tot 17:00 hul posstukke binne-in die poskantoor by die postoonbank afhaal en op Saterdae vanaf 08:00 tot 13:00.

Skakel gerus die poskantoor by tel. (014) 717 4046/ 5681 vir navrae hieroor.

Related Articles

Back to top button