MunicipalNews

Burgemeester maak verskoning vir dorp se swak dienslewering

Amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit was duidelik baie haastig om die nuwe munisipale begroting vir die 2022/2023-boekjaar op Maandag 25 April tydens ’n vergadering met inwoners en sakelui van Wyk 1 in Laerskool Warmbad se skoolsaal te bespreek.

Dit is alombekend dat Wyk 1 maandeliks die meeste belasting aan die munisipaliteit betaal — meer as 70% van totale belastinginkomste van dié munisipaliteit.

Opgraderings en instandhoudingswerk aan die dorp se infrastruktuur maak jaarliks ’n groot deel van die besprekings van die begroting uit.
Belastingbetalers kan hulle maar staal vir aansienlike stygings in dienstegeld. (Sien berig elders)

Verlede week se vergadering, wat gewoonlik ure lank duur, is vanjaar in ’n japtrap afgehandel. Inwoners is vooraf daarvan in kennis gestel dat daar slegs twee uur beskikbaar is om deur die hele begroting te werk.

Polisiebeamptes het — nadat die twee ure verstreke was — die skoolsaal binnegestap en gesorg dat die mense die saal ordelik ontruim.
’n Amptenaar het by navraag hieroor gesê hulle bly “binne die riglyne van die Covid-19-maatreëls wat van toepassing is op binnenshuise saamtrekke”.

Gloria Seleka, Bela-Bela-burgemeester, het uit die staanspoor deur die syfers gevlieg. Met ’n “Ek wil nie nou tyd mors op hierdie” of “Ek dink nie ek wil julle verder met
hierdie detail belas nie”, het sy die vergadering duidelik laat verstaan dat haar tyd beperk is. Sy het egter by ’n paar geleenthede verskoning aan die vergadering gevra vir die swak dienslewering wat belastingbetalers tans ervaar. Sy het ook melding gemaak van die swak toestand waarin die dorp tans is.

Seleka het erken dat swak dienslewering “op die punt is” dat dit die menseregte van inwoners skend.

Die dorp is vol foutiewe straatligte, slaggate, onwettige vullishope, stukkende rioolstelsels en oorgroeide en onversorgde openbare areas.

Verdere klagtes oor foutiewe waardasies en gebrek aan dienslewering het kort-kort vanuit die gehoor opgeklink.

Inwoners het ook gekla dat die munisipaliteit se kliëntedienssentrum selde bereik kan word omdat die telefoonstelsel kort-kort stukkend is.

Inwoners het wel die geleentheid gekry om klagtes te opper. Dit was egter na afloop van die vergadering duidelik dat inwoners nie tevrede was met die antwoorde wat amptenare verskaf het nie.

Van die inwoners van Noodhulp-omgewing, wat ongekende diensleweringsprobleme ervaar, het gesê Noodhulp se paaie is die meeste van die tyd onbegaanbaar.

Die verantwoordelikheid om die paaie te skraap rus by die munisipaliteit.

Mense het ook dringende vrae gehad oor die bestuur van die munisipale vloot. Ander was heftig oor hul belasting wat verhoog, maar die dienslewering gaan by die dag agteruit.
Inwoners in die landelike gebiede is ongelukkig omdat hul waardasies verhoog en heffings aangepas word, maar hulle het nie dieselfde voordele en dienste as die belas-
tingbetalers in die dorp nie.

Inwoners het verder geëis dat meer inligting bekend gemaak word oor die geld wat op munisipale instandhouding bestee word. Inwoners wil hê dat instandhoudingsprogramme aan hulle bekendgemaak word.

Die tegniese afdeling se bekwaamheid en of hulle oor die nodige hulpbronne beskik, is ook bevraagteken.

Seleka het in reaksie gesê daar sal hard gepoog word om die dorp in die nuwe boekjaar reg te ruk.

Sy het gesê amptenare het ’n “oopdeurbeleid” en die publiek kan hulle enige tyd raadpleeg. Dié stelling het egter baie negatiewe reaksie uitgelok, aangesien inwoners beweer dat amptenare gereeld afwesig is of glad nie bereikbaar is nie.

Inwoners was dankbaar om te hoor dat die munisipaliteit ’n ooreenkoms met die Limpopo-padagentskap (RAL) aangegaan het om van die openbare paaie in die omgewing te herstel.

Seleka het gesê hoewel hul begroot het vir die herstel van straatligte, is sy bekommerd dat straatligte gevandaliseer word.

Die finale begroting moet in Junie goedgekeur word sodat dit op Vrydag 1 Julie in werking kan tree.

Related Articles

Back to top button