MunicipalNews

Slaggate pla inwoners meer as wat dit regering pla

Inwoners van Bela-Bela sien met verwagting uit na die dag dat die munisipaliteit aandag sal gee aan die tientalle slaggate in en om die dorp, maar dit lyk nie asof dié projek op die munisipalieit se prioriteitslys is nie.

AfriForum se Warmbad-tak het intussen besluit om self in te spring en slaggate te herstel.

Die Wyk 1-komitee beplan om die paaie naby skole en sakeondernemings op Saterdag 7 September te herstel. Hulle het reeds R6 000 se teer vir dié projek geskenk.

Hulle doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by die projek.

Carin Botha, takbestuurslid, het gesê die projek is tot voordeel van al die dorp se inwoners en besoekers. Die slaggate het ná die onlangse goeie reën en die gebrek aan instandhouding nog verder verweer en op sommige plekke is die gate nou só diep dat talle voertuie beskadig word.

“Indien mense ’n spesifieke slaggat wil aanmeld en ’n donasie vir die herstel daarvoor wil gee, sal ons die slaggat ondersoek en vasstel hoeveel teer nodig is. Indien ons nie op een dag die skade kan herstel nie, sal ’n opvolgprojek beplan word.”

Elke sak teer kos R85 en die geld kan direk in AfriForum se rekening inbetaal word met ’n verwysing vir die Bela-Bela-projek. Indien inwoners kontantskenkings wil maak, kan daar reëlings met die takbestuur getref word.

Verdere hulp, soos ekstra arbeid, sal die projek ’n hupstoot gee, het sy gesê.

Vir navrae en inwoners wat wil bydra tot die herstel en vooruitgang van die dorp kan vir Botha bel by tel. 082 853 4176.

  • Die onlangse Paasnaweek-ongeluksyfer lyk aansienlik beter as in die vorige jaar, hoewel ’n hele paar noodlottige ongelukke aangemeld is.

Volgens die departement van verkeer het daar in die Mopani-omgewing 20 ongelukke plaasgevind, in die Capricorn-omgewing 13, in die Waterberg 12, in Vhembe vyf en in Sekhukhune vyf.

Altesame 20 mense is op die provinsie se paaie dood.

Die departement skryf die ongelukke hoofsaaklike toe aan spoed, dronkbestuur en roekelose en/of nalatige bestuur.

In Bela-Bela het daar op die N1-snelweg ’n noodlottige ongeluk plaasgevind.

Motorryers is lankal bekommerd oor die toestand van plaaslike paaie soos die R101-pad van Bela-Bela na Pienaarsrivier, asook die R516-pad na Settlers.

Die slaggate het die paaie al só onbegaanbaar gemaak dat voertuie in aankomende verkeer se bane moet ry om die slaggate te vermy. Om alles te kroon is rondlopervee ook ’n reuse-
probleem op dié paaie.

’n Woordvoerder van die Limpopo-padagentskap (RAL) het teen druktyd aangedui dat ’n konsultant aangestel is om die R516 na Settlers te verbeter.

“Ons verwag om tussen 2022 en 2023 met opgraderings te begin en is in die proses om ’n kontrakteur aan te stel. Sodra ons die uitvoerfase betree, sal ons die inwoners daarvan in kennis stel,” het die woordvoerder gesê.

Nog geen planne is bekendgemaak vir die R101-pad tussen Bela-Bela en Pienaarsrivier nie.

Motorryers word intussen gemaan om uiters versigtig te bestuur op paaie waar die padoppervlak risiko’s inhou.

Related Articles

Back to top button