MunicipalNews

Inwoners sien uit na opgradering van R520-pad by Mookgophong

Instandhouding van die provinsiale pad (R520) tussen Mookgophong en die Olifant-vulstasie is nou ’n werklikheid en inwoners wat hierdie pad gereeld gebruik is baie in hulle noppies oor die goeie nuus.

“Die gemeenskap word hiermee in kennis gestel dat die Limpopo-padagentskap, ná talle versoeke van die munisipaliteit en gemeenskapslede, ’n kontrakteur aangestel het vir die opgradering en instandhouding van die pad tussen Mookgophong-dorp en die Olifant-vulstasie,” het Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, op Dinsdag 12 April in ’n mediaverklaring gesê.

Die kontrakteur het verskeie opdragte ontvang om met die herstelproses te begin.

Een hiervan is dat die boonste 150 mm van die pad geskraap moet word voordat die herstelwerk kan begin. Die pad moet ook herseël word met ’n dubbelseëllaag sand, klip en bitumen.

Rekonstruksie van die 1,5 m skouers aan albei kante vir die volle 9,7 km pad moet gedoen word en daar moet weerskante van die pad skoongemaak word.

Stormwaterkanale moet gevorm word en nuwe padtekens moet aangebring word wat insluit die verf van die tekens op die ryvlak van die pad.

Die rand van die pad moet ook herstel en gepleister word. Volgens Van Staden kan daar ook ander werk vereis word afhangende van die aanbeveling van die ingenieur.

“Die munisipaliteit en sy raadslede sal gereeld ’n oorsigrol speel en ’n projekbestuurskomitee is ook gestig wat gemeenskapslede verteenwoordig. Die munisipaliteit is dankbaar vir die opgradering van dié pad aangesien talle noodlottige ongelukke al daar plaasgevind het en die slaggate op dié pad ’n voortdurende nagmerrie vir toeriste en inwoners is,” het sy gesê.

Vier mense het die afgelope jaar in afsonderlike ongelukke op dié pad gesterf.

Die verkose wyksraadslid vir Wyk 5, Marita Louw, is die aangewese raadslid om die projek te moniteer.

Die projek is ook tydens die Geïntegreerde Ontwikkelings Plan-vergadering van Wyk 5 op Donderdag 7 April bespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button