MunicipalNews

Munisipaliteit in chaos gedompel ná bedanking

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit is in chaos gedompel nadat die waarnemende munisipale bestuurder, Dakalo Sinthumule, onverwags op Vrydag 1 April bedank het.

Haar laaste werkdag by die munisipaliteit is op Vrydag 29 April.

Dit volg kort nadat die vlootbestuurskontrak met Absa-bank op Donderdag 31 Maart verval het sonder dat die munisipaliteit voorsiening gemaak het vir ’n nuwe kontrak.

Die Pos het in ons uitgawe van 11 Maart berig oor die munisipaliteit se onvermoё om vullis te verwyder omdat ses van die sewe vullisverwyderingsvoertuie buite werking was.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, het die munisipale raad tydens die vergadering op Maandag 28 Februarie die besluit goedgekeur dat die huidige kontrak met Absa gekanselleer word sodat ’n nuwe vlootbestuurskontrak met een van nasionale tesourie se diensverskaffers beding kan word.

Dit blyk nou dat die nuwe ooreenkoms agterweë gebly het. Volgens munisipale wetgewing moet die (waarnemende) munisipale bestuurder nuwe diensverskaffers aanstel en kontrakte namens die munisipaliteit aangaan.

Dit het op Donderdag 7 April aan die lig gekom toe daar weer geen vullis in Modimolle verwyder is nie.

Van Staden het ’n kort mediaverklaring uitgereik waarin sy die situasie verduidelik het.

“Omdat die Absa-kontrak verstryk het, kon die vullisverwyderingsvoertuie sedert Vrydag 1 April nie brandstof ingooi om hul roetes te ry en vullis te verwyder nie,” het sy gesê.

Van Staden het wel uit haar pad gegaan om dieselfde dag reëlings te tref met ’n motorhawe in Modimolle sodat die voertuie kon brandstof ingooi. Intussen het Standard-bank, die munisipaliteit se bankier, ooreengekom om op Vrydag 8 April nuwe brandstofkaarte te verskaf.

Volgens die munisipaliteit se woordvoerder is daar steeds twee voertuie wat tans buite aksie is, maar hulle onderneem om so gou as moontlik die agterstand in te haal sodat vullis weer volgens die gewone skedule verwyder kan word.

Sinthumule is in Januarie 2019 aangestel as direkteur van strategiese beplanning en ekonomiese ontwikkeling nadat die saamgesmelte munisipaliteit sedert 2016 nog nooit hierdie pos kon vul nie.

ANC-raadslede het ná afloop van die munisipale verkiesing op 1 November 2021 vir haar gestem om die pos van waarnemende munisipale bestuurder in te neem.

Dr. Sheperd Mhlanga was vir etlike jare die waarnemende munisipale bestuurder en het intussen teruggekeer na sy oorspronklike pos as hoof- finansiële uitvoerende beampte. Volgens Van Staden behoort die munisipale raad tydens hul volgende vergadering op Vrydag 22 April ’n nuwe waarnemende bestuurder aan te wys.

Daar is reeds in vorige vergaderings gevra dat die pos vir ’n volwaardige munisipale bestuurder geadverteer moet word, maar dit is nog nie gefinaliseer nie.

Van Staden het ook gesê dat die werking van die munisipaliteit intussen ongehinderd kan voortgaan, want die betrokke direkteure en hoof- finansiële uitvoerende beampte is by magte om wetlike prosesse te kan hanteer in die afwesigheid van ’n munisipalebestuurder.

Daarmee saam gaan die departement finansies ook gebuk onder ’n personeeltekort. Die twee senior amptenare, Mpho Lekalakala en Jack Sithole wat in Januarie 2021 afgedank is, se poste is nog steeds nie gevul nie.

Daar is dus vakatures vir die afdelingsbestuurders in die logistiese bestuur, asook inkomste afdelings.

Intussen moet junior amptenare glo op ’n rotasiebasis waarneem in die poste. Die uitgawebestuurder, Sherly Matlala Moloko, is ook op Woensdag 16 Februarie vanjaar geskors hangende ’n ondersoek.

Ingevolge munisipale wetgewing moet die munisipaliteit binne 90 dae hul ondersoek afhandel en die nodige dissiplinêre stappe volg.

Intussen is inwoners van Modimolle, Mookgophong, Vaalwater en omgewing raadop oor die gebrek aan basiese dienslewering.

Related Articles

Back to top button