MunicipalNews

Parkie in Hagenstraat opgeknap

Die openbare parkie in Hagenstraat in Modimolle was vir jare ’n seeroog met rommel wat orals gestrooi is en die gras wat soms tot heuphoogte groei.

Dit het Louise Zietsman, stigter en eienaar van Huis Elpidos, wat reg oorkant die parkie woon, genoop om iets aan die saak te doen.

Sy en haar voltydse tuinwerker, Knowledge Ndlovu, en ’n deeltydse werker, Lukas Molandwa, hou sedert Maart 2020 die parkie netjies deur gereeld rommel daar op te tel en die sypaadjies skoon te maak.

Daar word ook gras gesny met ’n bossiekapper by die gedeeltes van die grasperk wat nie deur die munisipaliteit se span gesny kan word nie.

Hulle het einde verlede jaar begin om die speel-apparaat in die parkie af te skuur.

Volgens Zietsman was dit harde werk wat baie lank geneem het om te voltooi aangesien dit net sy en die twee werkers was. Alles is vroeg vanjaar weer met kleurvolle verf bedek.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het op Woensdag 6 April by die parkie besoek afgelê om Zietsman te bedank vir hul harde werk.

“Dit is wonderlik om te sien hoe inwoners eienaarskap neem en ’n positiewe verskil maak in hul omgewing,” het sy gesê.

Zietsman het aan Die Pos vertel sy het in 2020 besluit om die parkie “aan te neem” sodat inwoners van die tehuis en die res van die buurt dit kan benut.

Die tehuis bied ’n veilige, huislike omgewing vir agt permanente inwoners (tussen 35-55 jaar) wat aan skisofrenie en bipolêre gedragsversteuring ly.

Zietsman het 12 jaar gelede die oorspronklike tehuis in Johannesburg gestig nadat haar seun, Paul-Hendrik Zietsman, destyds ’n tweedejaarstudent, met skisofrenie gediagnoseer is.

Inwoners wat betrokke wil raak om die parkie mooi te maak, kan vir Zietsman bel by tel. 082 335 6272.

Besoek gerus die tehuis se webwerf: www.elpidos.org of hul Facebook-blad: House Elpidos, vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button