MunicipalNews

Munisipaliteit maak planne

Die Thabazimbi-munisipaliteit het op Donderdag 17 Maart ’n beplanning- en strategiesessie aangebied om die toekoms van dié munisipaliteit en die dorp te bespreek.

Dié twee daelange beplanningsessie is ’n poging van die munisipaliteit om pro-aktief op te tree, planne te beraam, strategieë te beplan en maatreëls in plek te stel om te sorg dat die volgende vyf jaar so glad as moontlik verloop.

Volgens Joshua Motsomane, woordvoerder van die munisipaliteit, was die doel van dié samesprekings om die munisipaliteit te herstruktureer en herposisioneer en ’n volhoubare plan in werking te stel om te sorg dat die dorp en sy mense doeltreffend gedien en bestuur kan word.

“Die doel van vanjaar se strategiese beplanningsessie was om die Thabazimbi-munisipaliteit meer doeltreffend te maak en om die impak van die munisipale raad binne die munisipaliteit en in die gemeenskap te bevorder,” het Motsomane verduidelik.

Rdl. Tokkie Swanepoel, burgemeester van Thabazimbi, het op haar beurt verduidelik dat hierdie broodnodige beplanningsessie haar en die ander raadslede die geleentheid bied om te beplan vir die volgende paar jaar en ook om by mekaar te leer en sodoende die munisipaliteit te versterk.

“Hierdie twee dae se beplanningsessie moenie net gesien word as beplanning van die volgende paar jaar nie, maar ook as ’n geleentheid vir ons raadslede om idees uit te ruil, konstruktiewe kritiek te deel en by mekaar te leer,” het sy verduidelik.

“As een afdeling van die plaaslike munisipaliteit faal of nie funksioneer soos dit moet nie, is dit ons verantwoordelikheid om dit oop en eerlik te bespreek en in die proses die moontlike oorsake en oplossings van die mislukkings uit te lig.”

Sy het voorts gesê die munisipaliteit en die planne kan slegs suksesvol wees as elke departement hul dienslewerings- en begrotingsplanne bereik, hul sleutelverantwoordelikhede nakom en as ’n span saam werk.

“Hierdie aksieplan behoort as ’n padkaart te dien om die Thabazimbi-munisipaliteit se doelwitte en verskeie inisiatiewe te prioritiseer, asook om na belangrike maatstawwe te kyk om te verseker dat ons as munisipaliteit op die regte pad is.”

Die Pos het die munisipaliteit genader vir kommentaar oor verskeie projekte, diensleweringskwessies en uitdagings wat inwoners verwag, maar teen druktyd geen terugvoer ontvang nie.

Die munisipaliteit het wel bevestig dat alle munisipale wyke tans in die proses is om wykskomitees aan te stel om die betrokke raadslede en die munisipale amptenare by te staan in hul daaglikse take.

Related Articles

Back to top button