MunicipalNews

Kla, teken beswaar aan, maak lawaai, staan teë, protesteer …

“As inwoners nie kla nie, dink munisipale amptenare blykbaar alles is in orde met dienslewering in die dorp.”

Só het Tinus Ras, DA-raadslid, tydens ’n vergadering op Saterdag 12 Maart met inwoners van Roodepoort- en Noodhulp-hoewes in Bela-Bela by Umoya-karavaanpark gesê.

Die doel van die vergadering was juis om probleme rakende die kragprobleme in die omgewing te bespreek.

Inwoners gaan reeds geruime tyd gebuk onder kragonderbrekings wat nie met beurtkrag verband hou nie.

Ras het aan die vergadering gesê die kraginfrastruktuur is in ’n baie swak toestand omdat die stelsel nie in stand gehou is nie. Die munisipaliteit moet uit eie fondse herstelwerk doen en selfs tranformators vervang omdat hul onderhoud nie aan die versekering se vereistes voldoen nie. Hulle kan dus nie eis vir nuwe onderdele nie.

Inwoners het die bevoegdheid van munisipale amptenare in twyfel getrek. Hulle het voorbeelde voorgehou waar amptenare nie foute kon herstel nie (volgens hulle waarskynlik uit onkunde), maar eerder die probleme omseil het deur die hoofstroom te oorbrug.

Hierdie tydelike oplossings maak dat die infrastruktuur nie die lading kan hanteer nie en tot gevolg het dat groot dele van die omgewing vir dae sonder kragtoevoer gelaat word.

Ras het voorts daarop uitgebrei dat die aanvullende begroting, wat in Februarie deur die munisipale raad goedgekeur is, min of geen geld beskikbaar het om diensleweringsprobleme in die dorpsgebied te verbeter.

Volgens die begrotingsyfers is daar geen voorsiening gemaak vir munisipale skuld, soos kontrakte wat miljoene rande beloop. Die afskryf van skuld is luidens die syfers nie in berekening gebring nie; dus kan die maandelikse uitgawes nie korrek bepaal word nie, het Ras gesê.

“Ons dorp skuld hul krediteure baie min in vergelyking met die res van die provinsie se munisipaliteite, maar die munisipaliteit kan nie eens maandeliks 60% van die verwagte inkomste van belastingbetalers verhaal nie,” het hy gesê.

Sonder dié begrote inkomste kan geen onkoste aangegaan word om instandhouding te doen nie.

“Die munisipaliteit dreig tans om wanbetalers se dienste af te sny. Skuldenaars moet egter ’n sewe dae kennisgewing ontvang dat hulle van voorneme is om dienste op te skort. Sou die munisipaliteit die geraamde bedrag van ongeveer R230 miljoen, wat nog geskuld word, kan invorder, kan die meerderheid van die probleme uitgesorteer word.”

Ras het aan inwoners gesê ’n kontrak is goedgekeur om die stukkende straatligte in die dorp te herstel, maar daar is nie geld begroot om die lamppale te diens of die kragdrade of komponente te vervang wat gesteel is nie.

“Ons het reeds ’n volledige opname van die wyk 1-dorpsgebied se probleme gedoen. Noodhulp en ’n gedeelte van Roodepoort val in dieselfde wyk. Die pad vorentoe is om genoeg lawaai op te skop dat die munisipaliteit van die belastingbetalers se probleme moet kennis dra en dit herstel.”

’n Afvaardiging met belanghebbendes sal na verwagting eersdaags die munisipaliteit met ’n lys van besware besoek.

Ras het gesê elke inwoner het die reg om die munisipaliteit in die hof vir kleineise te dagvaar. Rekordhouding van klagtes wat herhaaldelike aangemeld word sonder dat daar ’n oplossing kom, speel ’n groot rol om belastingbetalers se sake te versterk.

“Amptenare sien nie genoeg mense by openbare vergaderings nie. Inwoners moet as ’n gesamentlike front hul stemme verhef, anders is die amptenare onder die indruk dat die meeste belastingbetalers tevrede is.”

  • Navrae aan die munisipaliteit se kommunikasieafdeling het, soos tevore, geen reaksie uitgelok nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button