MunicipalNews

Munisipaliteit in hof oor kontrak

Die hooggeregshof in Polokwane het op Dinsdag 1 Maart ’n hofbevel teen die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se waarnemende bestuurder, Dakalo Sinthumule, toegestaan vir minagting van die hof in ’n siviele saak tussen die owerheid en EMS Lingani.

Die vonnis van 30 dae tronkstraf is opgeskort met sekere voorwaardes. Die hof het op Dinsdag 8 Maart uitspraak gelewer in die saak.

EMS Lingani Joint Venture, wat Rural Maintenance Pty. Ltd. insluit, het op Vrydag 4 Februarie ’n mosie teen die plaaslike munisipaliteit, dr. Shepherd Mahlangu in sy hoedanigheid as direkteur van finansies (CFO), asook teen Sinthumule ingedien.

Ingevolge die mosie beweer die eiser (EMS Lingani) dat die munisipaliteit versuim het om volgens die kontrak wat in Oktober 2019 gesluit is op te tree deur betalings gedeeltelik te weerhou.

Die oorspronklike kontrak wat as ’n “electricity management agreement” met die munisipaliteit gesluit is het EMS Lingani as enigste elektrisiteitsverskaffer vir ’n termyn van drie jaar aangestel.

Aangesien die verskaffer ’n groot belegging vooruit gemaak het in die opgradering en onderhoud van die elektriese infrastruktuur van al die dorpe wat onder die munisipaliteit val, verwag hul ’n gewaarborgde terugbetalingsooreenkoms.

Volgens EMS Lingani het die munisipaliteit nie by hierdie terugbetalingsooreenkoms gehou nie en was hul genoodsaak om hul tot die hooggeregshof te wend vir dringende optrede teen die waarnemende munisipale bestuurder.

Die Pos het ’n afskrif van die hofbevel van Vrydag 4 Februarie 2022 bekom waarop aangedui is dat die munisipaliteit maandeliks R1,2 miljoen moet betaal vir die aankoop van materiaal, asook onderhoud van die elektrisiteit infrastruktuur in geval van nood.

Nog ’n maandelikse bedrag van R1,2 miljoen moet ook betaal word vir dag-tot-dag onderhoud aan die kragnetwerk.

Daarmee saam is daar bedrae wat weekliks oorbetaal moet word vir dienste gelewer asook die stelselmatige afbetaling van die munisipaliteit se uitstaande skuld.

Gideon Ferreira van die prokureursfirma Geyser & Ferreira Ing., wat die munisipaliteit in die saak verteenwoordig, het aan Die Pos gesê die hof het bevind dat die saak nie dringend was nie en het die aansoek vir Sinthumule se inhegtenisname geskrap.

Die hof het verduidelik dat Sinthumule, wat eers op 1 Desember 2021 in die pos van waarnemende munisipale bestuurder aangestel is, die nodige geleentheid gegun moet word om haar te vereenselwig met die volle inhoud van die kontrak met EMS Lingani.

Die kostebevel vir twee advokate, asook ’n prokureur, is teen EMS toegestaan.

“Hierdie is ’n baie komplekse hofsaak met heelwat tegniese faktore wat in ag geneem moet word,” het Ferreira gesê.

Volgens hom het die munisipaliteit teen die hofbevel geappelleer.

Die plaaslike owerheid beweer die vereiste betalings is nie haalbaar nie en daar sal eersdaags beraadslaag moet word om ’n volhoubare ooreenkoms te bereik.

Intussen het Marlene van Staden, burgemeester, bevestig dat die munisipale raad ’n ondersoek deur die nasionale tesourie aangevra het om enige moontlike ongerymdhede in die kontrak tussen die plaaslike owerheid en EMS Lingani te ondersoek.

Related Articles

Back to top button