MunicipalNews

Munisipaliteit ontvang broodnodige hulp

Dit lyk asof die krisis met vullisverwydering in Thabazimbi dalk iets van die verlede is nadat die plaaslike munisipaliteit twee splinternuwe vullisverwyderingstrokke ontvang het.

Opdie foto is een van die twee vullisverwyderingstrokke wat Samancor aan die Thabazimbi-munisipaliteit geskenk het om dienslewering in die dorp te verbeter.

Inwoners van Thabazimbi en die omliggende omgewing het die afgelope jaar gewoond geraak aan die haglike omstandighede van die dorp se stortingsterreine en daaglikse probleme met vullisverwydering en onwettige storting.

Samancor Western Chrome-myn, ’n plaaslike myngroep, het op Woensdag 9 Februarie die twee trokke aan die munisipaliteit oorhandig.

Tokkie Swanepoel, burgemeester van Thabazimbi, het tydens die oorhandigingseremonie by Thabapark haar dank teenoor die myn uitgespreek en gesê dié skenking haal ’n groot las van die munisipaliteit se skouers af.

“Die Thabazimbi-munisipaliteit het vullisverwydering voorheen suksesvol bestuur. Verouderde toerusting het egter in onbruik geraak en die tekort aan ander hulpbronne het die taak bemoeilik. Die tekort aan geld om nuwe toerusting aan te skaf, het ons verder gekniehalter,” het sy verduidelik.

“Danksy die nuwe vullisverwyderingstrokke sal ons in staat wees om gereeld en betyds vullis te verwyder en na die stortingsterrein te vervoer.”

Die tekort aan hulpbronne het dikwels daartoe gelei dat dienslewering in die slag gebly het en dan het inwoners vullis onwettig in die dorp gestort.

Swanepoel is hoopvol dat hierdie skenking, in samewerking met die bestaande toerusting, ’n einde sal maak aan die vullisprobleme in die dorp.

“As daar nie goeie beheer oor vullisverwydering of die bestuur daarvan is nie, raak inwoners gefrustreerd en is hulle nie meer trots op hul dorpe nie. Ons hoop dat die skenkings ons in staat sal stel om die beeld van ons dorp en die omgewing te herstel en inwoners trots te maak op Thabazimbi,” het sy uitgebrei.

Kealeboga Sennano, transformasiebestuurder van die myn, het op haar beurt haar hoop uitgespreek dat die skenking, wat deel uitmaak van Samancor se gemeenskapsontwikkelingsprojekte, die munisipaliteit sal help om die huidige agterstande in te haal en die daaglikse vullisverwyderingsprogram te vergemaklik.

Swanepoel moedig die gemeenskap aan om meer betrokke te raak deur gereeld kontak te maak met plaaslike raadslede en probleme so gou moontlik aan te meld.

Related Articles

Back to top button