MunicipalNews

Thabazimbi is gerat vir vloedwater

Thabazimbi se nooddienste het hulle gereed gemaak vir moontlike vloede en oorstromings nadat swaar reën oor groot dele van die land uitgesak het.

Hewige buie in Gauteng, Limpopo en die Noordwes-provinsie het tot gevolg dat baie damme in hierdie omgewings, insluitend die Hartbeespoort-, Klipvoor- en Roodeplaatdam, oorvol is en die riviere wat in en uit dié damme loop, reeds in vloed is.

Die Thabazimbi Crisis Control Centre (TCCC) en die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het gewaarsku dat inwoners in en om Thabazimbi baie versigtig moet wees aangesien die waarskynlikheid van vloede toegeneem het.

Henk Havenga, woordvoerder van die TCCC, het aan Die Pos verduidelik hoewel verskeie damme en riviere se vlakke goed bestuur word, moet inwoners steeds versigtig wees.

“Die dam- en riviervlakke word goed gemoniteer en bestuur en ons maak gereeld waarnemings en neem lesings van die veranderings in damvlakke. Ons kan dus deurlopend inligting gee van hoe die vlakke verander,” het hy verduidelik.

“Ons hoop en glo dat daar nie vanjaar vloede sal wees nie, maar dit hang af van hoeveel reën nog kom.”

Die TCCC en GPF moedig inwoners aan om aan te sluit by een van die verskeie sosiale mediagroepe om op hoogte te bly van verwikkelinge.

“Ons is hier vir noodgevalle en het spanne wat kan reageer. Inwoners moet sorg dat hulle ’n noodnommer byderhand het.”

Havenga het gemaan dat inwoners alle riviere, spruite en damme moet vermy totdat die dreigende vloedgevaar verby is.

“Mense se veiligheid is nou die belangrikste,” het hy gesê. “Bly uit die riviere en bly weg van damme. Enigiemand wat nou op binnebande, vlotte of bootjies in ’n rivier vaar is baie onverskillig,” het hy gesê.

Hy het verder gewaarsku dat visvang en wandelings langs riviere vermy moet word.

“Motorryers loop ook die gevaar om in die moeilikheid te beland wanneer laagwaterbrûe oorstroom.”

Hy het gewaarsku dat voertuie meegesleur kan word.

Inwoners wat hulself in ’n noodsituasie bevind, kan vir Henk Havenga (TCCC) bel by tel. 066 211 6355 of vir Roelf Krause (Thabazimbi GPF) by tel. 083 452 8629.

Related Articles

Back to top button