MunicipalNews

Sies, dit stink!

Die drastiese agteruitgang van Thabazimbi se rioolstelsel wek kommer oor inwoners se gesondheid by plaaslike politici en gesondheidsdepartemente.

Afgevaardigdes van die Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) in Limpopo en die Menseregtekommissie (MRK) het op Woensdag 2 Februarie tydens ’n opvolgbesoek aan Thabazimbi tot die skokbesef gekom dat probleme by die plaaslike rioolaanlegte wat reeds in 2019 aangemeld is, steeds nie herstel is nie.

Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF-Plus, het verlede jaar saam met dr. Eileen Carter van die MRK besoek afgelê by die rioolaanlegte in Thabazimbi en Northam.

Volgens die verslag wat Carter ná haar besoek in 2021 opgestel het, voldoen nie een van dié aanlegte aan die nodige veiligheidsvereistes nie.

“Ons het tydens ’n oorsigbesoek in 2021 aan die Thabazimbi-munisipaliteit gevind dat die munisipaliteit se rioolsuiweringsaanlegte steeds buite werking is, nieteenstaande die ingryping van die menseregtekommissie in 2019,” het Maritz in ’n mediaverklaring gesê.

Die MRK het reeds in November 2019 begin met verskeie ondersoeke in die Thabazimbi-munisipale omgewing nadat klagtes en ’n verslag van die Krokodilrivier-forum ontvang is oor riool wat herhaaldelik in die Bier- en Rooikuil-spruite gestort is. Albei hierdie spruite voed die Krokodilrivier wat deur Thabazimbi vloei.

Volgens Maritz het die MRK reeds in 2021 gewaarsku dat selfs die Limpoporivier bedreig word indien die besoedeling nie in die kiem gesmoor word nie.

“Die Rooikuilspruit (Thabazimbi) vloei tot in die Krokodilrivier wat aansluit by die Limpoporivier. Die grootskeepse rioolbesoedeling raak daarom nie net Suid-Afrika nie, maar ook buurlande wat aan die Limpoporivier-grens.”

Om die kroon te span het die onlangse swaar reën tot gevolg gehad dat die riooldreineringstelsels en stormwaterafvoerpype in die dorp oorspoel het en sedertdien word rou riool op verskeie plekke in die dorp aangetref.

Die strate wat erg geraak is, is Eerste Laan, Vierde- en Negende Laan, asook Van der Bijl-, Jakaranda-, Diederick-, Melba- en Vinkstraat. Die inwoners van Arend- en Loerielaan kla ook oor die riool.

Die MRK het in Desember 2020 reeds ’n strafregtelike klag teen die waarnemende munisipale bestuurder, Gladwin Tloubatla, ingedien.

Dié klag is ook na die nasionale kommissaris verwys. Maritz het aan Die Pos gesê sy hoop die MRK se besluit om regstappe te neem, sal die munisipalieit dwing om dringend aandag aan die probleme te skenk.

“Die munisipaliteit het baie tyd gehad om die nodige hulpbronne of geld te bekom en hulle moet verantwoordelikheid neem vir die rioolprobleme in die omgewing,” het sy gesê.

Martitz het verduidelik dat sy begrip het vir die munisipaliteit se huidige finansiële posisie, maar sy het gesê daar is verskeie noodfondse in Limpopo wat voorsiening maak vir dié soort probleme.

“Die Thabazimbi-munisipaliteit het destyds aan die MRK bevestig dat hulle deeglik bewus is van die probleme en tekortkominge by die aanlegte en dat daar samesprekings gevoer word met twee myne in die omgewing wat glo bereid was om te help met die opgradering van die aanlegte, asook met die bou van ’n nuwe suiweringsaanleg. Daar het duidelik niks van die onderhandelings gekom nie,” het sy gesê.

Die Pos het die Thabazimbi-munisipaliteit om kommentaar genader, maar teen druktyd geen terugvoering ontvang nie.

Tokkie Swanepoel, burgemeester, het wel in ’n boodskap op sosiale media aan die publiek gesê dat die munisipaliteit onderneem om so gou as moontlik aan dié riool en ander munisipale probleme aandag te skenk.

“Weens ons infrastruktuur wat verouderd is en die weersomstandighede van die afgelope paar weke, kry ons heelwat foute op elektriese kabels. Toerusting wat nie in gebruik is nie, moet by die skakelaar afgeskakel word. Infrastruktuur se lewensduur kan verleng word deur krag oordeelkundig en spaarsamig te gebruik. Dit is aaklig om dae sonder krag te sit. Waterlekke en rioolprobleme moet ook aangemeld word. Wees verseker dat die munisipaliteit regtig inwoners se belange op die hart dra en graag goeie dienslewering wil verskaf,” het Swanepoel gesê.

“Ek wil inwoners ook vra om asseblief die munisipaliteit te help om probleme te identifiseer en aan te meld. Ons wil die probleme en behoeftes van ons inwoners oplos. Ons vra ook vir begrip en geduld. Die probleme wat oor etlike jare ontstaan het, kan nie in dae opgelos word nie. Inwoners se insette en aanbevelings kan gestuur word na mayor26@thabazimbi.gov.za.”

Related Articles

Back to top button