MunicipalNews

Jongmense se toekoms is belangrik

Die Thabazimbi-munisipaliteit is baie trots op die onlangse opening van die nuwe Thabazimbi Youth Centre (TYC) in Regorogile.

Dié sentrum is amptelik op Maandag 31 Januarie geopen en beoog om ’n toevlug te word vir die dorp se minderbevoorregte jeugdiges.

Die munisipaliteit, in samewerking met Sishen Iron Ore Company se Community Development Trust (SIOC-CDT), Love Life en Marakele-natuurreservaat, het die nood onder minderbevoorregte jeugdiges in en om Thabazimbi raakgesien en daarom werk daarvan gemaak.

“Talle gemeenskappe in Suid-Afrika stoei daagliks met verskeie sosiale kwessies wat grotendeels die gevolg is van ’n hoë werkloosheidsyfer en armoede,” het Joshua Motsomane, kommunikasiebeampte van die munisipaliteit, in ’n verklaring verduidelik.

“Die hartseer waarheid is dat dié probleme gewoonlik die grootste invloed op die jeug het en daarom is dit nie vreemd om jong mense te sien wat vasgevang raak in dwelm- en alkoholmisbruik, tienerswangerskappe of misdaad nie. Bittermin van dié jongmense kry dit reg om weg te kom van hul negatiewe omstandighede.

“Hierdie is ’n geleentheid vir minderbevoorregte jeugdiges om uit hierdie omstandighede te kom. Die TYC sal verskeie programme aanbied om leierskapsontwikkeling te bevorder en positiewe gedragsverandering teweeg te bring. Die TLM hoop ook om deur die sentrum gesondheidsgesprekke en –veldtogte te loods om jongmese in te lig oor veral seksueeloordraagbare siektes en die belangrikheid van ’n persoon se fisieke gesondheid. Hulle het ook ten doel om die jeug te waarsku oor die vernietigende effek van tienerswangerskappe en gevalle van geslagsgebaseerde geweld te verminder.

“Dit is vir die munisipaliteit ’n blye dag om te sien hoe hierdie projek groei,” het Tokkie Swanepoel, burgemeester, tydens die sentrum se opening gesê.

“Hierdie soort projekte bewys dat ons die jeug se toekoms ernstig opneem en hul geleenthede probeer verbeter,” het sy gesê.

Vir Swanepoel is die opening van dié sentrum ’n bewys van hoop en liefde en ’n gemeenskap se vermoë om na mekaar om te sien.

Related Articles

Back to top button