MunicipalNews

Bykomende kragvermoë word dringend benodig vir Bela-Bela

Talle inwoners van Bela-Bela was (weer) die afgelope naweek ure lank sonder krag — sonder dat die owerhede ’n duidelike antwoord kan gee oor presies waar die probleem hierdie keer gelê het.

Terwyl Eskom ’n verhoging in kragtariewe van 20,5% vir 2022 aangevra het, word die kwessie van instandhouding van bestaande infrastruktuur, wat die kragreus in samewerking met plaaslike munisipaliteite moet bestuur, nou vir inwoners ’n erge las.

Sekere huishoudings in die dorp was die afgelope naweek tot 29 uur sonder krag. Bela-Bela se kragvermoë, en die gesloer met die opgradering van die dorp se kragstasie op die R516-pad na Settlers, is opnuut tydens die jongste munisipale raadsvergadering bespreek.

Meer as R2 miljoen is in die 2015/2016-boekjaar aan ’n konsultant bewillig om voorbereiding te doen vir die bouprojek. Konstruksie aan die substasie het reeds in 2017 begin, maar is steeds nie voltooi nie.

Munisipale verslae, wat Die Pos ook onder oë gehad het, dui daarop dat vertragings in die bouwerk waarskynlik te wyte is aan die wanbestuur van fondse.

Die verslag toon dat die kontrakteur wat aanvanklik aangestel is, se kontrak in Augustus 2020 beëindig is omdat die werk nie teen die 2018/2019-boekjaar voltooi was nie.

Daar word voorts aangedui dat ’n regeringstoelae van R70 580 000 destyds vir die projek bewillig is en in twee fases uitbetaal sou word.

Ongeveer R11 miljoen is intussen aan Eskom vir onder meer aansluitngsfooie betaal.

Daar is luidens die verslag tot op hede R40 622 949,18 aan die projek bestee. In die verslag word gemeld dat die kontrakteur probleme ondervind het met die lewering van materiaal en werk wat agter skedule geraak het.

Die nasionale tesourie het op verskeie geleenthede geweier om geld wat nie in die betrokke boekjaar bestee is nie, na die volgende boekjaar oor te dra.

Teen einde Februarie 2020 was die vorderingsverslag onbevredigend. Sowat 90% van fase 1 was voltooi en slegs 19% van fase 2, lui die verslag.

Die departement van minerale en energiesake het daarna verdere voorwaardelike toelaes, wat deel vorm van die nasionale kraguitbreidingsprogram (INEP), gestaak.

Luidens die verslag sal bykomende geld eers deur die regering toegestaan word wanneer die munisipaliteit bewys kan lewer dat hulle oor die vereiste infrastruktuur beskik om grootmaatkrag aan verbruikers in hul omgewing te bied.

Die behoefte aan bykomende grootmaatkragvoorsiening word as dringend noodsaaklik beskou aangesien beloftes oor behuising gemaak word aan inwoners van Uitbreiding 9 (300 huise), Uitbreiding 5 (100 huise) en Uitbreiding 25 in die Koppewaai-informele nedersetting (1 000 huise), lui die verslag.

Die verslag lui voorts dat die Bela-Bela-munisipaliteit se tegniese afdeling bekommerd is oor vandalisme en diefstal van duur onderdele op die perseel waar die onvoltooide kragsubstasie geleë is.

  • Die Pos het navrae oor die munispaliteit se planne aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gerig. Hy het teen druktyd aangedui hy sal navrae hieroor “op ’n latere geleenheid” beantwoord.

Related Articles

Back to top button