MunicipalNews

Ag nee, sies, Bela-Bela-munisipaliteit!

Bela-Bela se inwoners is siek en sat vir die haglike toestand waarin die dorp verkeer en die Bela-Bela-munisipaliteit se argelose houding daaroor.

Inwoners kla veral sedert die begin van die Covid-19-pandemie oor rou riool wat gereeld straat-af loop, stukkende straatligte, onwettige vullisstorting, vervalle openbare parke, ongekende krag- en waterprobleme, asook die dorp se verkeerssentrum wat “meer aflyn af iets anders is”.

Die Pos plaas vandeesweek foto’s (die punt van die ysberg) van klagtes wat weke, maande en selfs jare gelede aangemeld is, maar steeds nie herstel is nie.

“Ons soek nie antwoorde by JeeDee Cloete (VF-Plus-raadslid) of Tinus Ras (DA-raadslid) nie. Ons eis antwoorde van die munisipaliteit se topbestuur,” het een inwoner versoek.

Die Pos het dié foto’s op Dinsdag 2 Februarie aan Kabelo Mosito, munisiaple woordvoerder getoon.

Hy het onderneem om dit met sy afdelingshoof op te neem.

’n Trok het sowat drie weke gelede dié drein op die hoek van Minnaarweg en Moffatstraat oopgery en in die proses het ’n baie diep sinkgat ontstaan. Die gevaarlike situasie is aangemeld, maar die munisipaliteit dink blykbaar dit is aanvaarbaar om net ’n reuseklip voor die gat te plaas.
Inwoners wat naby die Reitzstraatparkie woon, weet nie meer wát om te doen om gehoor te word nie. Dié parkie het ’n oornagplek vir haweloses en morsjorse geraak. Daar word ook dag en nag partytjies met klipharde musiek gehou en die gras staan heuphoogte.
Hierdie spoedhobbel in Pretoriaweg (op die hoek by die Bela-Bela-landdroshof) het al menige voertuie deur die lug laat vlieg. Daar is geen waarskuwingsteken voor die spoedhobbel aangebring nie en boonop is dit in die skadu van ’n boom geleë.
Dié groot slaggat in Pretoriaweg (naby die Bela-Bela-landdroshof) het al talle voertuie se bande beskadig.
Stukkende straatligte is aan die orde van die dag in Bela-Bela. Dié een staan hang-kop in Kretzschmarlaan.
Dié mangat oorkant Hassims in Chris Haniweg, die hoofstraat, is al jare lank oop.
Die Bela-Bela-munisipaliteit het aan die begin van Januarie ’n opknapprogram aangekondig ingevolge waarvan munisipale spanne lang gras in die dorp sou sny. Dié foto toon die duidelike verskille tussen instandhouding aan die Warmbad-rolbalbaangronde (links) en die Reitzstraatpar-
kie wat deur die munisipaliteit onderhou moet word.
Albei hierdie kragbokse (bo en onder) in Kretzschmarlaan is nie gesluit nie. Soms staan die deure wawyd oop en privaat persone het toegang tot die kaste.

Dit is hoe die sypaadjie-plaveisel voor die NTK in Kretzschmarlaan lyk. Dit gaan só lekker, dat voertuie sommer op die loopvlak parkeer.
Inwoners van Bela-Bela kan blykbaar vullis stort net waar hulle wil — die munisipaliteit steur hulle glad nie daaraan nie. Só lyk dit in Lunaweg naby die Warmbad Rusoord.
Moenie soek vir ’n naambord (bo) op die hoek van Kretzshmarlaan en Thabo Mbekiweg nie — daar is nie een nie.
Inwoners van Flamboyantstraat (links) in Bela-Bela is moedeloos oor die rioolprobleem in hul omgewing. Rou riool spoel gereeld in die straat. Die oorsprong van die oorvloei van riool is op die foto duidelik sigbaar — die pompstasie by Bospoort. Die munisipaliteit het deur die jare verskeie kere tydelike oplossings by die punt aangebring, maar die oorsprong van die probleem word nie aangespreek nie.
Lesers kla gereeld oor die groot aantal straatligte in Bela-Bela wat buite werking is. Hierdie straatlig in Mentzlaan is al maande buite werking.
Só lyk die riooldrein oorkant Hassims in Chris Haniweg, Bela-Bela se eens trotse hoofstraat.
Mangate in die dorp se sentrale sakesektor en woongebied staan al jare lank oop. Op die foto is een so ’n mangat reg oorkant die munisipaliteit. Twee ander mangate wat ook in hierdie toestand is, is slegs ’n paar honderd meter van die munisipale kantore in Chris Haniweg te sien.
Rondlopervee is jarelank al ’n probleen in Bela-Bela. Die Pos het al soveel keer daaroor berig, en kommentaar en beloftes van optrede deur die owerhede gekry, maar dit hou nie op nie. ’n Trop beeste het die afgelope naweek maar net weer rustig op die sypaadjie in Oosthuizenstraat gewei.
Hierdie oop mangat is op die hoek van Botha- en Van der Merwestraat in Bela-Bela.
Bela-Bela se sypaadjies is vol gate en slote — wat in die reënseisoen vol water en soms rioolwater is. Dié foto is op die hoek van Kretzschmar- en Robertsonstraat geneem.
Die hoek van Reitzstraat en Gilfillanlaan is ’n kopseer. Behalwe dat Gilfillan se naam makeer (onder), is daar ook ’n groot rioollek op die hoek (bo), asook ’n reuseslaggat wat al herhaalde kere “herstel” is, maar met elke reënbui weer oopspoel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button