MunicipalNews

Aanlynvergaderings ‘moet end kry’

Die publiek, en selfs amptenare van die Bela-Bela-munisipaliteit, voel sterk daaroor dat die dae van aanlynvergaderings, wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, nou getel is.

Die aanlynraadsvergaderings van die plaaslike munisipaliteit loop deur onder fel kritiek.

Die eerste amptelike openbare raadsvergadering van die jaar het op Vrydag 28 Januarie plaasgevind, maar is weer aanlyn gehou.

Dieselfde oggend het amptenare egter ’n spoggerige prysuitdelingsgeleentheid van die departement van onderwys se Waterberg-distrik by Forever Resorts bygewoon.

Hierdie byeenkoms is óók aanlyn uitgesaai, maar raadslede en amptenare het verkies om dit in persoon by te woon terwyl hulle daarop aangedring het om die raadsvergadering aanlyn te hou. Aanlynvergaderings is sedert 2020 ingestel en is gekenmerk deur verwarring en swak organisering.

Swak internetverbindings het ook gereeld vir onderbrekings gesorg. Die vergaderings het ook baie langer geduur as wanneer dit in die raadsaal sou plaasvind.

“Ons het al talle kere tydens raadsvergaderings geëis dat hierdie sessies dadelik end moet kry. In die beginstadium van die pandemie was dit aanvaarbaar en sake het vlot verloop, maar hierdie vergaderings is beslis besig om onproduktief te raak,” het Tinus Ras, DA-raadslid, gesê.

Die publiek is volgens wet geregtig om openbare raadsvergaderings by te woon.

Met die aanlynvergaderings kon die publiek egter slegs op uitnodiging en met ’n toegangskode wat vooraf verkry moes word, toegang tot ’n vergadering verkry. Inwoners het daarom nie al die inligting ontvang van besluite wat tydens vergaderings geneem is nie.

Ras het gesê daar word deesdae vir sommige komiteevergaderings in ’n saal vergader en vir ander word daar in dieselfde tydgleuf ’n aanlynvergadering belê.

Dit veroorsaak verwarring en frustrasie. Hitekani Magwedze, woordvoerder van die departement van samewerkende regering, nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), het by navraag gesê die departement verkies op hierdie stadium dat raadsvergaderings binne-in ’n raadsaal plaasvind.

“Die meerderheid munisipaliteite doen dit tans. Dit is slegs wanneer die Covid-19-gevalle toeneem in ’n dorp dat aanlynvergaderings vir ’n tydperk, totdat die vlaag afneem, aanbeveel word.”

Volgens die departement van gesondheid het Bela-Bela teen druktyd slegs 15 aktiewe Covid-19-gevalle gehad.

Ras meen die nuutste vlak-1-aanpassings bepaal dat 1 000 mense binnenshuis en 2 000 in die buitelug geakkommodeer kan word. Dit moet ook op munisipaliteite van toepassing wees, sê hy.

Die Pos het navrae hieroor aan Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, gerig, maar sy antwoord was weer, soos talle kere in die verlede wanneer die koerant navraag oor munisipale aangeleenthede doen:

“Ek sal op ’n latere stadium die vrae beantwoord.”

  • Die parlement het op Maandag 31 Januarie ’n verklaring uitgereik dat bykomende aanpassings aan die vlak 1 Covid-19-inperkingsregulasies aangebring is.

Related Articles

Back to top button