MunicipalNews

Munisipaliteit maak beswaar teen ‘onbillike prysverhoging’

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit het op Vrydag 14 Januarie ’n amptelike skrywe aan die nasionale energiereguleerder (Nersa) gerig om kapsie te maak teen Eskom se voorgestelde prysverhoging van 20,5% vir die 2022/2023-boekjaar.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester, was die plaaslike munisipaliteit se tariefverhogings die afgelope vyf jaar telkens 2-3% laer as die goedgekeurde dubbelsyferverhoging wat Nersa vir munisipaliteite goedgekeur het.

Die munisipaliteit het daarom versoek dat die voorgestelde prysverhoging hersien moet word sodat dit in lyn sal wees met die huidige verbruikersprysindeks van 5,5%.

“Die prys van elektrisiteit het die afgelope vyf jaar jaarliks met dubbelsyfers gestyg. Die afgelope 13 jaar het krag met altesame 307% gestyg wat hoër is as enige ander produk of diens in ons land,” het Van Staden gesê.

Nersa moet die 2022/23-prysbepaling nie later as Dinsdag 15 Maart in die parlement ter tafel lê.

Die tariewe vir munisipaliteite sal daarna bereken word, gegrond op die Eskom-verhoging vir die nuwe boekjaar wat op Vrydag 1 Julie in werking tree.

Van Staden is van mening dat inwoners van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit nie hierdie astronomiese prysverhoging kan bekostig nie.

“Dit is onregverdig en onbekostigbaar, want talle sake-eienaars en inwoners sukkel reeds sedert 2020 om finansieel die mas op te kom. Die Covid-19-pandemie en nasionale inperkings het gelei tot die sluiting van heelwat sakeonder- nemings en die verlies van permanente en tydelike werksgeleenthede. Gereelde beurtkrag het ook ’n ernstige impak op verouderde infrastruktuur wat deurlopende kragvoorsiening bemoeilik,” het sy gesê.

Deel van die amptelike skrywe aan Nersa was voorstelle om die elektrisiteitstariewe bekostigbaar te hou deur middel van die subsidiëring van elektrisiteitsopwekking en moontlike privatisering van gedeeltes van Eskom.

“Die koste van werkers en peper- duur konsultante kan ook verlaag word. Natuurlik moet wanbesteding en korrupsie in Eskom ook aangespreek word,” het sy gesê.

Intussen hou inwoners asem op vir ’n gunstige uitkoms op die vertoë wat aan Nersa gerig is.

Related Articles

Back to top button