MunicipalNews

‘en die groen gras groei daar om …‘

Die Bela-Bela-omgewing het danksy die milde reën behoorlik in ’n oerwoud ontaard.

Die dorp se munisipale dienste wat oor die Kers-vakansie ingekort is, het bygedra tot oorgroeide strate en parke in die dorp.

Die Bela-Bela-omgewing het volgens die Waterberg DLU die afgelope maand bogemiddelde reënval van meer as 300 mm gehad. Inwoners is dankbaar oor die reën, maar warm onder die kraag omdat die gras by munisipale sypaadjies, toegangsroetes en parke nie in dié tyd netjies gehou word nie.

Volgens talle inwoners het besoekers die dorp oor die feesseisoen as vervalle en onnet ervaar.

Die haglike toestand van die munisipale begraafplaas is ook onder Die Pos se aandag gebring.

Die Bela-Bela munisipaliteit het intussen ’n opruimingsprogram bekend gemaak en inwoners verseker dat hulle die dorp eersdaags weer in ’n netjiese toestand sal hê.

Ingevolge die program is daar verlede week op die ingange van die dorp, asook die begraafplaas, gefokus.

Die opruimingsprogram sal dan uitbrei na ander plekke soos die Bela-Bela-township, Spa Park en die Masakhane-township buite Radium. In die program word egter melding gemaak daarvan dat die munisipaliteit ’n ernstige tekort aan hulpbronne het.

Daar is tans slegs een trekker, 10 bossiekappers, ’n bakkie, ’n viertontrok en ’n enkele mobiele grassnyer vir die opruimingswerk beskikbaar.

Die werkers (in oranje of groen uniforms) wat aangestel is in terme van die uitgebreide openbare werkeplan (EPWP) sal dus sonder die nodige toerusting hulp verleen met die opruimingswerk.

Die huidige EPWP-kontrakte verstryk einde Maart. Die munisipaliteit moet dan nuwe personeel aanstel of nuwe kontrakte sluit vir die opruimingsprogram.

Rika Kruger, DA-raadslid betrokke by gemeenskaplike ontwikkeling, het in reaksie aan Die Pos gesê ’n paar weldoeners het reeds aangebied om te help om die dorp weer in ’n netjiese toestand te kry.

Dié groep inwoners het reeds toerusting en grassnydienste aangebied en die gras in Swanepoelstraat en die parkie in Apiesdoringlaan laat sny, het sy gesê.

Related Articles

Back to top button