MunicipalNews

Munisipaliteit onderneem om Thabazimbi netjies te hou

Thabazimbi het die afgelope paar weke goeie reën gehad wat die omgewing vinnig in ’n lowergroen plek verander het.

Inwoners het hul misnoeë op verskeie sosiale media platforms uitgespreek dat die digbeboste en onnet sypaadjies nie net ’n seer oog is nie, maar ook gevaar inhou vir padgebruikers en voetgangers. Sypaadjies is nou plek-plek só toegegroei dat motorryers nie aankomende verkeer om ’n draai of by ’n kruising kan sien nie.

Josua Motsomane, kommunikasiebeampte van die Thabazimbi-munisipaliteit, wil egter inwoners gerusstel dat die munisipaliteit so gou as moontlik aandag aan dié probleem sal skenk. Hy het gesê daar is egter tans ander probleme wat eerste prioriteit moet kry en die hulpbronne word daar vereis.

“Die afgelope paar weke se weersomstandighede het veroorsaak dat die tegniese spanne van die munisipaliteit nie by die huidige skedule kon hou om die sypaadjies en plaaslike parke skoon en netjies te hou nie,” het hy gesê. “Daar is wel ’n span wat reageer op probleme wat dringende aandag vereis, soos byvoorbeeld wanneer bome weens swaar reën omval en die paaie versper,” het hy gesê.

Motsomane het bevestig dat die munisipaliteit weens ’n tekort aan masjinerie en die nodige hulpbronne, sukkel om daagliks aandag te kan skenk aan hierdie en ander probleme in die dorp.

“Ons ondervind tekorte en daarom is dit nie moontlik om dadelik aandag te skenk aan die onderhoud van groot areas nie,” het hy verduidelik. “Die munisipaliteit is egter besig met samesprekings met verskeie belanghebbendes om masjinerie soos trekkers te verkry.”

Hy het gesê daar word daagliks pogings aangewend om die diensleweringsprobleme in die dorp op te los. Hulle sou graag hul dienste wou uitbrei, maar met beperkte hulpbronne word hulle gekniehalter, het hy gesê.

Die munisipaliteit vra die gemeenskap om geduldig te wees en waar moontlik self verantwoordelikheid te neem vir die instandhouding van sypaadjies voor hul wonings of sakeondernemings.

Related Articles

Back to top button