MunicipalNews

Speaker in warmwater oor verkiesing van burgemeester

Die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (MMLM) het ná vier raadsvergaderings nog steeds nie ’n nuwe burgemeester of hoofsweep nie.

Die vergadering is op Donderdag 2 Desember voortgesit.

Die eerste vergadering wat op Vrydag 19 November plaasgevind het, is lamgelê deurdat al 14 ANC-raadslede nie opgedaag het nie en gevolglik kon slegs die DA, VF-Plus en EFF se raadslede ingehuldig word.

Die ANC se 12 wyksraadslede en twee proporsionele raadslede is eers tydens die tweede vergadering op Maandag 22 November ingehuldig.

Na afloop van die inhuldiging het die eerste stemming vir die posisie van speaker plaasgevind. Sinah Langa (ANC-kandidaat) en Dingaan Motshwene (DA-kandidaat) het elkeen 14 stemme ontvang en daarom moes ’n volgende vergadering belê word ingevolge die munisipale strukturewet.

Sinah Langa is op Maandag 29 November as speaker van die Modimolle-Moogophong-munisipaliteit verkies. Sy moes dadelik ná haar verkiesing haar sit in dié warmstoel ken om orde te handhaaf. Foto: Herman Steyn
Dr. Shepherd Mhlanga, waarnemende munisipale bestuurder van die Modimolle/Mookgophong-munisipaliteit, sit langs Sinah Langa, nuwe speaker, tydens die eerste raadsvergadering van dié munispalitiet waar ’n staking van stemme hul verhoed het om ’n burgemeester aan te wys. Foto: Herman Steyn

Hierdie (derde) vergadering is op Dinsdag 23 November gehou en het weer op ’n dooiepunt uitgeloop.

Die omstrede stembrief wat deur die ANC-raadslede verwerp is, ten spyte van die onafhanklike verkiesingskomitee (OVK) se uitspraak dat dit wel ’n geldige stem vir die DA-kandidaat was, het veroorsaak dat die ANC-raadslede die vergadering ontwrig het.

Ondanks pogings van die voorsitter, dr. Shepherd Mhlanga (waarnemende munisipale bestuurder) om die raadslede tot orde te roep, moes die vergadering verdaag word.

Die munisipale raad se vierde vergadering en inhuldiging het op Maandagoggend 29 November in die Waterberg-distriksmunisipaliteit se raadsaal in Modimolle plaasgevind.

Mhlanga, wat weer as voorsitter opgetree het, het die hulp van drie geestelike leiers ingeroep om as verkiesingsbeamptes in te staan. Johan Brits (Fokus Deo) het met gebed geopen en die Here se vrede vir die vergadering en gemeenskap gevra. Hy is bygestaan deur Felix Fambi (Awake Grace Ministries International) en Samuel Ngoepe (Waterberg Christian Community).

Aaron Sebolai (ANC) en Marlene van Staden (DA), die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se twee burgemeesterskandidate het tydens die raadsvergadering op Maandag 29 November albei 14 stemme verwerf waarop die nuutverkose speaker, Sinah Langa, dadelik wou oorgaan om ’n muntstuk op te skiet. Op die foto staan Sebolai en Van Staden by past. Felix Fambi van die Awake Grace Ministries International-gemeente en wag om te sien of die opskiet van die muntstuk voortgaan. Foto: Herman Steyn

Almal teenwoordig het gestaan tydens die sing van die nasionale volkslied, buiten die EFF-raadslede wat weer gaan sit het met die Afrikaanse en Engelse strofes van die volkslied.

Die eerste punt op die agenda was die (derde) stemming vir die posisie van speaker.

Daar was ’n groot gejuig toe Langa (ANC) 15 stemme verwerf het teenoor die DA-raadslid se 13 stemme. Langa het na vore gegaan en die sitplek langs die voorsitter ingeneem. Langa het voorheen as raadslid in die Mookgophong-munisipaliteit gedien voor die samesmelting met Modimolle-munisipaliteit in 2016.

Ná ’n kort pouse het die vergadering om 10:00 hervat om die vyf lede van die uitvoerende raad te verkies. Hulle is Aaron Sebolai (ANC), Jan Rufus Mahoro (ANC), Marlene van Staden (DA), Johan Prinsloo (VF-Plus) en William Bravo Monyela (EFF).

Die stemming vir die burgemeester was die volgende agendapunt en almal het in afwagting toegekyk hoe elke raadslid hul kruisie gaan trek het.

Die stemming was weer gelykop met Aaron Sebolai (ANC-kandidaat) en Marlene van Staden (DA-kandidaat) wat elkeen 14 stemme ontvang het.

Ingevolge die munisipale strukturewet moet daar ’n tweede stemming plaasvind tydens ’n volgende vergadering wat binne sewe dae moet geskied. Indien hierdie stemming ook gelykop is, moet daar ’n muntstuk opgeskiet word om die lot te bepaal.

Daar het groot verwarring in die raadsaal uitgebreek toe die nuutverkose speaker aangekondig het dat hul moet voortgaan om ’n muntstuk op te skiet om die uitslag te bepaal.

Hierdie besluit is strydig met die munisipale strukturewet en boonop is dit die rol van die voorsitter — en nié die speaker nie — om die volgende stappe gedurende die stemproses aan te kondig.

Die vier verteenwoordigers van elke party (Sarah Monyamane van die ANC, Desirée van der Walt van die DA, Jossey Bhutane van die EFF en Marcelle Maritz van die VF-Plus) het protes aangeteken omdat die speaker buite orde opgetree het en ’n vurige woordewisseling het onstaan.

Die stemproses is daarna gestaak en die voorsitter het die vergadering tot orde geroep. Sebolai, ANC-burgemeesterskandidaat, het versoek om ’n volgende vergadering binne sewe dae te skeduleer waarop Van Staden gevra het dat die vergadering so spoedig moontlik moet voortgaan, verkieslik nog dieselfde dag, aangesien alle belanghebbendes reeds teenwoordig is.

Hierop het die speaker, sonder raadpleging, besluit dat die volgende vergadering om 09:00 op Donderdag 2 Desember moet plaasvind. Die probleem is egter dat die Waterberg-distriksmunisipaliteit reeds hul eerste amptelike vergadering geskeduleer het vir 12:00 op Donderdag 2 Desember in dieselfde raadsaal.

  • Die Pos het intussen verneem dat die DA ’n mosie van wantroue gaan instel teen die nuutverkose speaker omdat sy buite orde opgetree het. Volgens Van der Walt, DA-LP en kies- afdelingshoof in die Waterbergstreek, wil hulle verseker dat raadslede, die speaker inkluis, die munisipale wetgewing en prosesse volg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button