MunicipalNews

Regruk-projek is in volle swang

Die Ruk-Naboom-Regprojek het ontstaan toe ’n paar inwoners van Mookgophong net nie meer die agteruitgang van die dorp kon verdra nie en besluit het om iets aan die voorkoms van dié mooi vakansiedorp te doen.

Volgens André van der Schyff, een van die voorlopers, is verskeie projekte reeds geloods om die dorp op te knap.

“Dit is ’n voortdurende werk en nie net ’n eenmalige gebeurtenis nie. Van die dorp se inwoners het besluit om ’n groep met die naam Ruk-Naboom-Reg te stig,” het hy aan Die Pos gesê.

Die groep het tydens die Covid-19-pandemie betrokke geraak by die korttermynvoorsiening van suurstofsilinders aan inwoners wat dit nodig gehad het.

Hierdie diens is steeds beskikbaar. Van die bestuurslede het in Oktober besluit om iets aan die slaggate te doen voordat die Desember-vakansie aanbreek.

Antoinette Wagener, een van die bestuurslede van die Ruk-Naboom-Reg-projek, in aksie tydens die opruiming van die dorp. Meer as 800 swartsakke vol vullis is verwyder.

Daar is toe ook besluit om terselfdertyd ’n skoonmaakprojek te loods. Hulle het aan die werk gespring en vullis verwyder by al die dorp se toegangsroetes en sedert Oktober tot einde November reeds sowat 800 swartsakke vullis verwyder.

“Verskeie slaggate in die dorp is herstel en dié projek duur nog voort,” het hy gesê.

Die kruising by 6de Straat en 5de Laan, wat baie verkeer dra en groot frustrasies veroorsaak het, is op Maandag 29 November gevul.

Die betrokke kruising het reeds sowat 110 sakkies teer geverg. Die beraamde koste vir die teer beloop R8 800. Van der Schyff het gesê die voortbestaan van die projek sal grootliks afhang van bydraes deur die gemeenskap sodat daar volhoubaar met die projekte voortgegaan kan word.

“Daar is inwoners en weldoeners wat werklik groot bydraes gemaak het soos die 200 sakke teer wat deur Naboom Plastiek gekoop en afgelewer is,” het ’n dankbare Van der Schyff gesê.

Vrywilligers verskaf ook daagliks aan die werkers koue water en koeldrank wanneer hulle op Maandae en Woensdae werk.

Die staalpotte in die hoofstraat is ook geverf en André Pienaar het onderneem om plante te skenk en te plant.

Die bestuur van Ruk-Naboom-Reg bedank inwoners en instansie wat help om Mookgophong weer die spoggerige dorp van ouds te maak.

Die bestuur bestaan uit Mokone du Preez, Antoinette Wagener, Karen Briel en André van der Schyff.

Related Articles

Back to top button