MunicipalNews

Bela-Bela: In die donker gang is geen lig wat brand

Inwoners van Bela-Bela kla al jare lank oor straatligte wat nie werk nie, maar daar is steeds weinig lig in die spreekwoordelike tonnel.

Die versoek om straatligte te herstel verskyn maandeliks op die veiligheidsvergadering wat by die polisiestasie gehou word, se agenda.

Rolspelers meen dat die donker strate misdaad bevorder. Lamppale wat nie in stand gehou word nie en die diefstal van sekere komponente uit die lamppale dui op verwaarlosing en wanbestuur aangesien instandhouding deel van die dorp se goedgekeurde begrotingsplan is.

Die drade wat by van die lamppale uithang is dikwels nog lewendig en dus lewensgevaarlik as iemand daaraan sou vat. Ingevolge wetgewing sal die munisipaliteit verantwoordlik gehou word indien daar ’n fratsongeluk by hierdie lamppale plaasvind.

Navrae aan die munisipaliteit in verband met die instandhouding en hoe inwoners dit moet aanmeld, was teen druktyd steeds onbeantwoord.

Tinus Ras, DA-raadslid, het intussen lede van die gemeenskappolisiëringsforum (GPF) gevra om ’n opname te maak van die straatligte wat nie saans brand nie. GPF-lede ry saans patrollie deur die woonbuurt en sakekern en is gevra om ’n register by te hou van gebreke.

Gerhard Olivier van die GPF het teen druktyd die volgende strate en die aantal ligte wat buite werking is bekendgemaak:

Huilboslaan (vyf ligte buite werking), Apiesdoringlaan (nege), Rooiboslaan (drie), Blinkblaarstraat (een), Knoppiesdoringlaan (vyf), Olienhoutstraat (12), Seringlaan (twee), Bothastraat (ses), Heuwelstraat (een), Mentzlaan (27), Geelhoutlaan (twee), Quaggaweg (agt), Roodepoortstraat (nege), Swanepoelstraat (12), Van Heerdenstraat (drie), Hillhorstlaan (sewe), Geloftestraat (vyf), Gilfillianlaan (ses), Moffatstraat (22), Corckeryweg (vier), Van der Merwestraat (19), Flamboyantstraat (vier), Soetdoringlaan (vier), Kretzschmarlaan (14), Lunaweg (16), Hospitaalstraat (twee), Driverstraat (12), Ritchieweg (sewe), Minaarstraat (ses), Van Stadenstraat (vyf) en Ludorfstraat (32).

“Dit spreek vanself dat ’n groot deel van die dorp dus nie saans belig is nie. Wat ons wel ervaar het terwyl ons uit op patrollie was, is dat sekere ligte een aand glad nie brand nie, maar die volgende aand brand daar wel ’n paar wat die vorige aand donker was. Daar is dalk iets fout wat reggestel kan word, maar daar is feitlik in elke straat in die dorp straatligte wat nie werk nie,” het Olivier gesê.

Ras het gesê die publiek moet deurentyd diensleweringsfoute aanmeld om die munisipaliteit op hul tone te hou.

“Onlangse gesprekke met Gloria Seleka, nuwe burgemeester, toon dat sy bereid is om diensleweringsprobleme aan te hoor. Ons beplan om in Januarie die nuwe wykskomitees te kies wat gereeld die foute in die dorp aan die munisipaliteit sal deurstuur,” het Ras gesê.

Jeedee Cloete, Vryheidsfront-Plus-raadslid, het teen druktyd gesê hy sal, in samewerking met die plaaslike ekonomiese ontwikkelingsforum, die lys van foutiewe straatligte bekom en die klagtes direk met die munisipaliteit se tegniese afdeling opneem.

“Ons wil by die betrokke amptenare weet wat die oorsaak van die probleem is, wat hulle voorstel is om die probleem op te los en teen wanneer dit herstel sal wees?” het hy gesê.

“Indien daar gesê word dat daar ’n gebrek aan fondse vir instandhouding bestaan, plaas die munisipale bestuur hul eie vermoë onder verdenking.”

Inwoners word intussen aangeraai om enige diensleweringsprobleme by die munisipaliteit of betrokke raadslid aan te meld.

Related Articles

Back to top button