MunicipalNews

Tokkie Swanepoel aangewys as Thabazimbi se nuwe burgemeester

Die Thabazimbi-munisipaliteit het op Dinsdag 23 November die nuwe raadslede wat vir die volgende vyf jaar (2021-2026) sal dien, in hul ampte beëdig.

Tokkie Swanepoel (DA) is gedurende die vergadering aangewys as Thabazimbi se nuwe burgemeester.

Bennie Thlabadira (TFSD) neem die rol as speaker oor en die munisipaliteit se uitvoerende komitee (UK) bestaan uit Themba Mkanzi (ANC), Judith Mogapi (ANC), voormalige burgemeester John Fisher (TRA) en Tokkie Swanepoel (DA).

Die ANC het vanjaar se verkiesing oorheers met 47,40% van die stemme. Daarmee saam het dié party 11 sitplekke op die raad verseker.

Die DA was die tweede sterkste party en neem vier sitplekke in die raad in. Die Thabazimbi Residents Association (TRA) neem drie sitplekke in en die Economic Freedom Fighters (EFF) en Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) albei twee.

Die Thabazimbi Forum for Service Delivery (TFSD) wat in die vorige termyn geen sitplekke op die munisipale raad gehad het nie, het vanjaar ook ’n verteenwoordiger op die raad.

Desirée van der Walt, provinsiale leier van die DA, het ná die aankondiging gesê die DA sal vanjaar na die beste van hul vermoë werk om in die beste belang van die dorp se inwoners op te tree.

“Die vyf opposisiepartye het saamgestaan om te verhoed dat die inwoners van Thabazimbi deur die ANC in die raad beheer word,” het sy verduidelik. “Ons is dankbaar vir die hele span. Ons maak staat op al 12 raadslede se ondersteuning en samewerking.”

Die wykraadslede is Pontsho Solomon Sello, Tokkie Swanepoel, Stephen Lerumo, Themba Mkanzi, Maxwell Magetse, Lydia Sikhwari, Judith Mogapi, Tshegofatso Ramoabi, David Masilo, Theo Khalunga, Leonard Nozozo en Abel Sesoma.

Die proporsionele raadslede is Ronny Manyama, Herman Kgotlhang, David Gouveia, Hendrick Selokela, Egnes Xolisa Ntshantsheni. Bennie Thlabadira, John Fisher, Catherine Sikwane (hoofsweep), Mpina Louizah Matlala, Frik Erasmus en Kampie Steenkamp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button